
’n Geïntegreerde strategie vir voedselsekerheid gaan deur ’n inter-ministeriële komitee hersien word as deel van ’n ondersoek na voedselpryse in die land.
Mnr. Ronald Ramablane, hoof-uitvoerende beampte van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), het aan die Kabinet uitgewys dat dít net een van die sake is wat die komitee in die verband sal ondersoek.
Luidens ’n berig op Nuus24.com het die Kabinet dié komitee pas gevra om voorstelle te maak in reaksie op wisselvalligheid en gevreesde voedseltekorte wat veroorsaak kan word deur die droogte in Amerika.
Onmiddellike kwessie
Ramablane het opgemerk dat dié strategie tans een van die grootste bronne van kommer is. Hy het onderneem dat die komitee so gou moontlik ’n voorstel aan die Kabinet sal voorlê vir goedkeuring. “Die onmiddellike kwessie is hierdie droogte in Amerika, wat waarskynlik die ergste droogte in 30 jaar is wat die prys van grane drasties beïnvloed. Dit sal ‘n impak op die prys van vleis ook hê.”
Volgens ’n verklaring vanaf die Kabinet moet die komitee “dringend voorstelle bespreek oor hoe om voort te gaan en moet onmiddellik medium- en langtermyn-beleidsvoorstelle indien”.
Bron: Nuus24.com