Dit was die boodskap van mnr. Kallie Schoeman, besturende direkteur van die Schoeman Groep, op die maatskappy se toekenningsgeleentheid vir sy produsente wat deel is van die Zamukele-program.
“Die aandrywers van die landbou sit vandag voor my. Dit is julle, ons boere, wat die ekonomie aandryf, jul moed en jul passie. Almal van ons vorm deel van hierdie span boere in Suid-Afrika wat die dryfkrag is om werk te skep, om armoede te verlig en bekostigbare voedsel te produseer, nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir ons buurlande.”
Schoeman het gesê dat, ongeag van hul grootte, boere almal deur tien risiko’s in die gesig gestaar word. “Hierdie risiko’s sluit in insetkoste, logistiek, klimaatverandering, infrastruktuur, oesversekering, verblyfsekerheid, korrupsie, geweldsmisdaad, ’n gevalle Land Bank en staatskaping. Ons hoofdoel en klem in besigheid is om hierdie risiko’s te bestuur. Dit is die risiko’s waaroor ons moet praat, eers binne ons gemeenskappe, dan op provinsiale en dan op nasionale vlak.”