
Die verhouding tussen die voerkraal en die produsente van speenkalwers moet verander, sê mnr. Louw van Reenen, voorsitter van die SA Voerkraalvereniging, en uitvoerende hoof van die voerkraal Beefmaster.
Hy sê beesboere moet ’n groter poging aanwend in die bemarking van hulle speenkalwers deur ’n goeie verhouding met ’n bepaalde voerkraal te kweek. “Werk saam met jou keuse van ’n voerkraal en bemark jou oes!”
Van Reenen het op ’n bosberaad van die Drakensberger-beestelersgenootskap van SA gesê boere hoef nie van nét een voerkraal afhanklik te wees nie, maar hulle moet hul produkte wyer bemark.
Volgens hom is dit ’n wanopvatting dat voerkrale teen sekere beesrasse diskrimineer. “Indien produsente beeste met die regte potensiaal lewer, sal voerkrale na hulle stroom om hulle speenkalwers op te raap,” sê hy. “Een voorbehoud wat die winsgewendheid van enige voerkraal regstreeks raak, is dat jy nie die verkeerde kalf reg kan voer nie."
Van die aanbevelings en versoeke uit die wyer voerkraalbedryf is dat dragtige koeie geënt moet word, asook kalwers ná geboorte. Die vraag na kruisrasdiere wat oor langer tydperke gevoer kan word, is betreklik hoog. Produsente is ook versoek om koeie te selekteer wat teen longsiektes bestand is.
Hy sê die voerkrale beskou die Drakensberger as ’n geskikte voerkraalbees wat oor medium groei-eienskappe beskik. Tans verkies die bedryf kruisrasdiere van dié ras wat in die somer aangekoop word uit vrees vir die vatbaarheid vir longsiektes in die winter.
Volgens prof. Johan Willemse is voerkrale se vraag na speenkalwers van rasse met groter raamptipes wat langer bly groei en vleis aansit, as kleinraamdiere wat té vinnig vet word. Die kleinraamdiere is meer geskik vir veldafronding.
Willemse sê ook die temperament en bestuursagtergrond van ’n bees bepaal ook hoe goed dit in die voerkraal sal vaar.
Hy sê ook dit is duidelik dat die voerkraalbedryf bepaalde behoeftes het, maar nie oor die nodige data beskik om dit te verifieer nie. Op dié vlak lê ook baie ruimte vir verbetering. “As ons as beesprodusente in die mark met ander produkte, soos hoendervleis, wil meeding, is daar baie ruimte vir verbetering, veral ten opsigte van aspekte soos voeromset en die aanpasbaarheid in die voerkraal,” sê hy.