
Totdat die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) (Wet 62 van 1997) formeel herroep of verander word, sal die boer steeds dié wet as toevlug het wanneer ‘n werker- of bewoner sekere oortredings begaan.
Die afgelope ruk het oproepe uit regerings- en vakbond-oorde gekom vir ‘n moratorium op plaasuitsettings, weens ‘n beweerde styging in plaasuitsettings in die Wes-Kaap.
Dit het die vraag laat ontstaan of die Regering wel so ‘n moratorium kan afdwing en wat die gevolge vir die grondeienaar sal wees wanneer hy iemand op die plaas het wat werklik ‘n probleem is.
Mnr. Michiel Heyns, ’n senior assosiaat in Werksmans Prokureurs se arbeidsregdepartement in Kaapstad, verduidelik die Esta-wet reël tans die omstandighede waaronder ‘n uitsetting van landbougrond gewoonlik plaasvind.
In terme van die wet mag ‘n okkupeerder se reg tot verblyf beëindig word vir enige wettige rede, solank sodanige beëindiging regmatig en billik is.
Die howe het gestalte aan hierdie vereistes gegee, byvoorbeeld dat die partye tot ‘n dispuut rondom ‘n uitsetting betekenisvol met ander belanghebbendes soos die betrokke munisipaliteit moet konsulteer.
Dit vloei uit die grondwetlike verpligtinge van die staat om behuising aan behoeftige partye te voorsien.
Indien 'n okkupeerder se reg om behuising byvoorbeeld vanuit sy of haar diens vloei en daar 'n dispuut rondom die regmatigheid van sy of haar diensbeëindiging is, moet sodanige arbeidsdispuut ook eers afgehandel word voordat daar met uitsettingsverrigtinge begin kan word.
Heyns wys uit dat wanneer ‘n uitsetting oorweeg word, moet die volgende faktore in ag geneem word.
Dit is die billikheid van ’n ooreenkoms, bepaling in ’n ooreenkoms of wetsbepaling of ander regsreël waarop die eienaar of persoon in beheer hom of haar beroep; die optrede van die partye wat tot die beëindiging gelei het; die belange van die partye, met inbegrip van die vergelykende ontbering aan die eienaar of persoon in beheer, die betrokke okkupeerder en enige ander okkupeerder indien die verblyfreg beëindig word of nie beëindig word nie; die aanwesigheid van ’n redelike verwagting dat die ooreenkoms waaruit die verblyfreg voortspruit na die tydsverloop daarvan hernu sal word; en die billikheid van die prosedure wat deur die eienaar of persoon in beheer gevolg is, met inbegrip van die vraag of die okkupeerder voldoende geleentheid gebied was of moes gebied gewees het om vertoë te rig voordat die besluit geneem is om die verblyfreg te beëindig.
Voorts mag 'n persoon wat vir 10 jaar op die betrokke grond of enige ander grond wat aan die eienaar behoort, gewoon het, wat die ouderdom van 60 jaar bereik het of ’n werknemer of voormalige werknemer van die eienaar of persoon in beheer is en as gevolg van swak gesondheid, besering of ongeskiktheid nie in staat is om arbeid aan die eienaar of persoon in beheer te verskaf nie slegs beëindig word indien die okkupeerder sekere oortredings begaan nie, het Heyns gesê.
Dit sluit in oortredings, soos om ander persone wat ook op die grond bly, opsetlik en onwettiglik skade aan te doen; opsetlik en onwettiglik wesenlike skade aan die eiendom van die eienaar of persoon in beheer aanrig; betrokke wees by optrede wat ander wat die grond of ander grond in die omgewing wettiglik okkupeer, bedreig of intimideer; of ongemagtigde persone in staat stel of help om nuwe wonings op die betrokke grond op te rig.