
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) vra dat boere in die Karoo wat se drinkwater van boorgate kom (akwifeerwater), wateranalises moet laat doen en vir die organisasie aanstuur om op sy webtuiste te plaas voordat hidrouliese breking vir skaliegas plaasvind.
Daar is nog geen aanduiding deur die Regering dat hy nie met die proses sal voortgaan om skaliegas te ontgin nie. Dr. Carl Albrecht het beklemtoon dat dit belangrik is dat boere basislyn-opmetings van hul watergehalte doen sodat, indien dit deur hidrouliese breking besoedel word, die inligting in die hof gebruik kan word.
Sonder dié soort inligting het geen besmette plaas of gemeenskap ’n voet om op te staan in ’n hof nie, want om besoedeling te bewys moet daar data van hoe die drinkwater se akwifeer voor en na die proses daaruit sien. Hoewel die toetsing hiervan duur is, ongeveer R30 000, sal dit die enigste roete wees wat gevolg kan word wanneer daar met die ontginningsproses van skaliegas begin word.
Van die kankerverwekkende stowwe wat in die vloeistowwe voorkom wat vir hidrouliese breking gebruik word, is formaldehied, benseen en kristallyne silika. Deur die hidrouliese brekingsproses word ook kadmium en lood-210 uitgelaat. Die vraag word gevra of hidrouliese breking in die Karoo gaan lei tot ’n toename in kanker in die gebied.
“Mens moet altyd hoop vir die beste en jou voorberei op die ergste,” sê Albrecht. Die ergste scenario is dat ’n lekkasie in die voeringpyp ontwikkel en die kankerverwekkende stowwe in die Karoo bereik die drinkwater-akwifeer. Kansa wil as onafhanklike organisasie die data van die watergehalte stoor sodat dit deursigtigheidshalwe op sy webtuiste geplaas kan word en almal toegang daartoe kan kry.
Kansa, wat hande vat met die aksiegroep Treasure the Karoo (TKAG), voel dat maatskappye wat die gas ontgin die verantwoordelikheid moet dra vir die regs- en kommersiële aspekte van die analise van waterdata. Hulle moet ook vir alle gepaardgaande toetse betaal. President Jacob Zuma het onlangs die wysigingswet op die ontwikkeling van minerale en petroleumhulpbronne (MPRDA) terug na die Nasionale Vergadering verwys vir heroorweging. Zuma meen die wetsontwerp soos hy daaruit sien, sal nie die grondwetlike toets deurstaan nie.
Mnr. Jonathan Deal, hoof uitvoerende beampte van TKAG, sê hoewel die wetgewing en die regulasies vir hidrouliese breking nog nie gefinaliseer en geïmplimenteer is nie, het die Regering tog die verwerking van aansoeke goedgekeur om skaliegas te prospekteer.
Foto – kankervereniging veg teen fracking
Van links is mnr. Jonathan Deal, hoof uitvoerende beampte van TKAG, prof. Eugene Cloete, vise-rektor vir navorsing en Innovasie by die Universiteit van Stellenbosch en dr. Carl Albrecht, die Kankervereniging van Suid-Afrika se waaremende hoof van navorsing.
FOTO: JOYLENE VAN WYK