
Boere in die somersaaigebiede moet hulself staal vir die kans dat die welkome La Niña wat verwag is, swak kan wees, of dalk glad nie eens ontwikkel nie.
Dr. Asmerom Beraki, seisoenvoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die meeste modelle wat die klimaat voorspel, dui wel op 'n waarskynlikheid dat La Niña-toestande in die lente en somer kan ontwikkel.
Dit word gewoonlik met baie reën verbind, maar die aanduidings is dat dit 'n gematigde tot swak La Niña kan wees.
Beraki het by 'n mediakonferensie gesê die koers van veranderinge in die see-oppervlaktetemperature het verwagtinge van 'n La Niña tot só mate laat verswak, dat die moontlikheid van neutrale toestande nie heeltemal buite rekeninge gelaat kan word nie.Neutrale toestande is wanneer daar nie afwykings van normale omstandighede is nie.
Onsekerheid oor verwagte reënval
Beraki het gesê teenstrydighede tussen voorspellingsmodelle bring mee dat daar onsekerheid is oor die verwagte reënval en temperature wat Suid-Afrika kan verwag.
Toestande oor die Indiese Oseaan mag moontlik nie gunstig vir reën in die lente wees nie. Die Indiese Oseaan Dipool-indeks toon dat 'n negatiewe tot neutrale fase in die lente kan ontwikkel. 'n Negatiewe fase neig gewoonlik om oordrag van vog van die Indiese Oseaan na die subkontinent te onderdruk.
Die meeste modelle wys wel, met marginale sekerheid, vooruitsigte vir hoër as normale reënval in die vroeë somer.
Meer betroubare inligting sal eers nader aan mid-somer beskikbaar wees. Dit is moontlik dat minimum en maksimum temperature in die komende somerseisoen laer en hoër as die gemiddeld kan wees.
Droogte se lang stert
Beraki het daarop gewys dat die huidige droogte oor 'n paar droë jare opgebou het, wat vererger is deur die droë en baie warm toestande van die El Niño van 2015/’16.
Om van die droogte te herstel, kan tyd neem en sal afhang van reënval en temperature, het hy gesê.
Beraki sê alle klimaatsvoorspellingsmodelle toon tans toenemende onsekerhede en daarom sal neigings van see-oppervlaktemperature deeglik dopgehou moet word om te bepaal hoe klimaatstoestande kan ontwikkel.