
Vragmotors van maatskappye in Gauteng wat vleis vervoer, word geteiken vir kapings. Dit blyk uit die inligting van verskeie bronne wat deurgeloop het onder kapings.
Landbou.com het onlangs berig van 'n vragmotor van Beerseun Boerdery in Ofcolaco, Limpopo, wat helder oordag in Gauteng gekaap is en later met die hulp van sosiale media gevind is. Verskeie bronne het sedertdien na vore gekom omdat hul vragmotors ook gekaap is.
Diefstal
Mnr. Elton Gross, bemarkingsbestuurder van Volksrust Meatco, sê twee van dié besigheid se vragmotors is op die R50 tussen Delmas en Bapsfontein gekaap. Met die tweede aanval is 'n wit voertuig gebruik om die bestuurder van die pad af te druk. “Die bestuurder het geweier om stil te hou, toe skiet die aanvallers op die vragmotor. Die vragmotor is toe van die pad af gedruk,” sê Gross.
Pretoria Primal Traders het aan Landbouweekblad bevestig dat een van hulle vragmotors ook gekaap is en die vleis wat in die vragmotor vervoer is, is gesteel. 'n Vragmotor van PVB Groothandel is twee maande gelede gekaap en vleis ter waarde van sowat R380 000 is gesteel.
Modus operandi
Die modus operandi was soortgelyk in die voorvalle waarvan Landbouweekblad bewus is. Die gewapende aanvallers nader die vragmotor in 'n voertuig, dra polisie-uniforms en skep die indruk dat hulle polisielede is om die vragmotorbestuurders te dwing om af te trek.
Die vragmotors is toegerus met satellietopsporingstelsels, maar die kapers gebruik seinblokkeerders.
Sodra die rowers die vleis uit die vragmotor na 'n ander voertuig oorgelaai het, los hulle die vragmotor langs die pad en verlaat die toneel. Wanneer die blokkeerder nie meer in die omtrek is nie, stuur die satellietopsporingstelsel weer seine uit en die vragmotor kan opgespoor word.
Beplan
Gross meen die aanvallers moet mense wees wat vleis ken, veral omdat die vleis gesteel word maar nie die vragmotor nie. “Jy moet klaar 'n afsetpunt hê om die vleis te verkoop. Dis nie lukrake diefstal nie. Dis 'n vragmotor van 12 of 14 ton, volgelaai met voor en -agterkwarte. Dis 'n kuns net om die kwarte af te laai,” sê Gross.
“Die kapings is by die polisiekantoor aangemeld, maar dit is 'n gesukkel omdat die polisie nie weet nie onder watter jurisdiksie die saak val nie,” sê Gross. Volgens Gross is 'n taakspan op die been gebring om die diefstal van swaarvoertuigmotors te bekamp, maar die taakspan het nog nie veel opgelewer nie.
“Ons het inligting aan die polisie deurgegee, maar niks is verder gedoen nie," sê hy.
Volgens kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, is daar talle motorkapings in die streek, maar hy is nie bewus van díe spesifieke reeks vragmotorkapings nie.