Karan Beef se verliese weens serologiese tekens van bek-en-klouseer by die voerkraal beloop sowat R10 miljoen. Mnr. Jannie Botha, die bestuurder van die voerkraal, sê dit het die bestuur slegs minute geneem om te besluit of hulle die besmette diere gaan slag om ’n moontlike uitbreking van ’n aktiewe virus te voorkom.
Die voerkraal is op 18 Maart in kennis gestel dat die serologiese toetse positief was. Hulle het Woensdag (13 April) die media na die voerkraal buite Heidelberg in Gauteng genooi om aan te kondig dat die kwarantyn amptelik opgehef is.
’n Soektog
Die die voerkraal het die diere wat positief getoets het, op ’n plaas in die Vryheid-distrik, sowat 150km van die bek-en-klouseer-beheergebied in KwaZulu-Natal, gekoop. Botha sê hulle koop al sewe jaar lank diere by dié plaas aan en hulle het nog nie voorheen probleme ondervind nie.
“Ons het toe reeds die diere tussen die ander versprei. Al dié diere asook diere wat naby aan hulle in kampe was, is binne ’n halfuur opgespoor en eenkant gehou. Ek dink die bestuur se besluit oor of ons die sowat 1 750 diere moes slag, het dalk 10 minute geduur.”
Groot impak
Dr. Dirk Verwoerd, die voerkraal se veearts, sê hulle is baie dankbaar dat hul benadering tot die siekte hoogs suksesvol was en dat die kwarantyn by die voerkraal binne weke opgehef is.
“Die uitbreking wat tans in die land voorkom, gaan egter ’n baie wyer sosiaal-ekonomiese invloed hê. Die strukturele kwessies by die departement rondom dié uitbreking moet aandag kry,” aldus Verwoerd.
Verwoerd moedig ook die georganiseerde landbou aan om sy uitkyk op tradisionele veeboerdery te verander. “Die georganiseerde landbou moet ernstig na homself gaan kyk asook die manier waarop hy na veeboerdery, veral beesboerdery, kyk.” Hy meen daar is soveel nuwe tegnologie op die mark wat bestuur, soos in die geval van siekte-uitbrekings, kan vergemaklik en meer vaartbelyn kan maak.
14 April 2011