
Afrikaner- en Nguni-boere wie se speenkalwers nie meer deur Karan Beef-voerkrale afgerond kan word nie, moet self eienaarskap van die bemarking van hul beeste neem.
Só sê mnr. Adrian Cloete, voorsitter van die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika (GFASA), nadat dit bekend geword het Karan Beef-voerkrale gaan voortaan net baie selektief Afrikaners en Nguni’s koop.
Volgens me. Marli Stegmann, voorsitter van die Nguni-beestelersvereniging, ís daar ander geleenthede en sy moedig boere aan om in die volle waardeketting betrokke te raak.
Mnr. Jannie Botha, hoofbestuurder van Karan Beef-voerkrale, sê hul agente sal voortaan net Nguni-beeste koop wat vooraf besigtig kan word om hul potensiaal te evalueer. “Ons wil eers sien of die dier gekruis is en waarmee, om so seker te maak dit was nie met nóg 'n ekstensiewe dier nie.”
Wat Afrikaners betref, sê Botha agente koop hulle selektief en sal na kruisings kyk, maar koop geen vroulike diere meer nie.
Botha sê Karan evalueer geruime tyd al die sakesin van Nguni- en Afrikaner-aankope en het reeds op prysgrondslag gediskrimineer. Nguni’s en Afrikaners het volgens hom nie die vermoë om hoë-energierantsoen kostedoeltreffend in vleis om te skakel nie.
“Met ons rantsoen kan ons nie 'n produktiewe wins uit Nguni’s maak nie. Dit is 'n ras wat by uitstek vir ekstensiewe toestande geteel is. Die ras kom tot sy reg in veldtoestande, waar sy goeie vrugbaarheid en sterk weerstand teen siektes en bosluise 'n groot rol speel.”
Van Karan se totale aankope was 5% tot 7% Nguni’s en slegs sowat 1% tot 2% Afrikaners.
Dr. Pieter de Kock, voorsitter van die Afrikaner-beestelersgenootskap, sê Karan se besluit is “ 'n droewige dag” . Hy is teleurgesteld dat daar nie gesprekke tussen die partye was nie.
Karan se voerprogram is volgens hom 120 dae, terwyl inheemse rasse op dieselfde voerkonsentraat binne 90 dae afgerond is.
De Kock sê dit is moeilik om te sê watter invloed Karan se besluit gaan hê, maar dit is jammer dat 'n negatiewe indruk nou van inheemse rasse se vroulike diere gewek word.
Stegmann sê die Nguni-beestelersvereniging kyk reeds 'n tyd lank na alternatiewe bemarkingstrategieë. “Die Nguni is hier om te bly. As hy reg gevoer word, doen hy goed in ‘n voerkraal.”
Volgens haar is daar steeds voerkrale wat Nguni-speenkalwers koop, en al betaal hulle minder per kilogram, maak boere steeds geld omdat hulle meer diere lewer.
Volgens prof. Michiel Scholtz, spesialis-navorser by die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereproduksie, ondersoek Suid-Afrikaanse en Australiese navorsers die moontlikheid van ‘n praktiese en wetenskaplik gegronde protokol vir veldvleis.
Ook GFASA is besig met ; n protokol waarvolgens veldvleis as sodanig en teen 'n premie bemark kan word.