
Prof. Tim Noakes van die Universiteit van Kaapstad, wie se hoë proteïendieet steeds opslae maak en mnr. Jonathan Deal van die Treasure the Karoo Action Group sal twee van die 40 sprekers wees wat op 5 en 6 November tydens die Tweede Karoo Parlement op Cradock optree.
Die geleentheid wat deur die Karoo-stigting (Karoo Development Foundation) gereël word, volg op ’n suksesvolle loodsprojek verlede jaar op Philipstown. Volgens die organiseerders is die doel van die geleentheid om inwoners en sakemanne met praktiese insigte en nuwe denke toe te rus vir die ontwikkeling van die streek. Die drie hooftemas vanjaar is Karoo-toerisme, Karoo-welstand en die stimulering van die ekonomie in die Karoo.
Onder die hooftemas is aspekte soos Karoo-cuisine, die Olive Schreiner-toerismeroete, ondersteuning aan Karoo-families, die hantering van die Fetale-alkoholsindroom (FAS), hoe om die kern-sakesentrum te hernieu en hoe om afval in ekonomiese geleenthede te omskep.
Die byeenkoms word in samewerking met die Vrystaatse en Pretoriase Universiteite, die Griekwaland Wes Koöperasie (GWK) en die Inxuba Yethemba plaaslike munisipaliteit op Cradock aangebied.
Besoek die webwerf www.karoofoundation.co.za vir meer inligting.