
Die groot voorraadhouding van katoen buite China van bykans 10 miljoen ton sal na verwagting steeds afwaartse druk op wêreldwye katoenpryse plaas.
Volgens Katoen SA se jongste markverslag (3 Sept) word dié voortgesette prysdruk toegeskryf aan die Chinese regering se voorneme om na raming 2 tot 3 miljoen ton jaarliks uit sy eie reserwevoorraad te verkoop.
Die Cotlook A-indeks,’n aanwyser van internasionale pryse, het tot 73 Amerikaanse c/lb in Augustus gedaal, die laagste vlak in bykans 5 jaar.
Volgens die internasionale katoen-advieskomitee (ICAC) sal die wêreld se katoenhandel in 2014/15 met sowat 1 miljoen ton afneem tot 8 miljoen ton, grootliks weens ’n verwagte afname van 30% in Chinese katoeninvoer.
Weens die verwagting van groot oeste in Amerika en Indië, sal dié lande steeds die wêreld se grootste uitvoerders van katoen bly en vir sowat 44% van alle katoenhandel verantwoordelik wees.
Mnr. Hennie Bruwer, hoofbestuurder van Katoen SA, sê die agtste skatting vir die plaaslike produksiejaar 2013/14 dui op ’n totale katoenoes van 48 844 bale vesel, ’n daling van 2% teenoor verlede maand. Na beraming sal die Suid-Afrikaanse katoenpluksel 44 344 bale oplewer, ’n styging van 70% teenoor die vorige seisoen.
Die balans van 4 500 bale vesel verwys na die verwagte Swazilandse geproduseerde katoen wat deur dié land se pluismeule gepluis sal word.