
Astral verwag baie beter syfers vir sy boekjaar tot einde September vanjaar.
Die genoteerde pluimveeprodusent het in 'n handelsverklaring gesê sy wesensverdienste per aandeel kan 90% tot 100% beter wees as die vergelykende twaalf maande van die vorige jaar. Die verdienste per aandeel kan 55% tot 65% hoër wees.
Die maatskappy se resultate vir die ses maande tot 31 Maart vanjaar het reeds gewys sake lyk baie beter as in die vergelykende tydperk, wat mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte, vroeër vanjaar as een van die slegste handelstydperke nóg vir die bedryf beskryf het.
Die halfjaarresultate het ‘n styging van 308% in die wesensverdienste per aandeel getoon.
Die bedryf het toe reeds die voordeel van hoër invoertariewe vir hoender uit lande buiten dié in die Europese Unie geniet.
Sedertdien het ‘n groot mielie-oes, teenstortingstariewe vir hoender uit sekere EU-lande, en die uitstel van die afkondiging van ‘n regeringsperk op die toevoeging van pekelwater in pluimveeprodusente se guns getel.
Astral se jaarresultate sal na verwagting op 17 November bekend gemaak word.
Sy aandeelprys het op die dag wat die handelsverklaring uitgereik is, Maandag 27 Oktober op R155,60 afgesluit.