
Met mnr. Melcus Nel se skielike onlangse afsterwe verloor die landbou ’n leier op die gebied van kwessies rakende swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die sektor.
Nel was ’n aandeelhouer en uitvoerende direkteur van die Signa-groep.
“Dit is met groot hartseer dat ons van Melcus se afsterwe gehoor het,” het mnr. Theo Boshoff, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz gesê. Die 60-jarige Nel is op 22 Mei oorlede.
“Melcus het sedert die begin van die agri-SEB-raad as vrywilliger in die raad gedien. Hy was altyd die kundigste persoon in die vertrek. Hy het diep spore getrap en die landbousakesektor se verbintenis tot agriSEB is grootliks te danke aan Melcus se geesdrif vir transformasie.”
Dr. John Purchase, voormalige uitvoerende hoof van Agbiz en nou ’n onafhanklike raadgewer, het ook nou saam met Nel gewerk. “Dit was ’n groot voorreg en plesier om met Melcus oor agri-SEB-aangeleenthede te kon saamwerk, omdat hy dié moeilike en omstrede veld so goed uit ’n praktiese en toepassingsomgewing geken het.
“Sy bydrae tot die volhoubaarheid van die landbousake-omgewing word erken en hoog op prys gestel.”
Boshoff sê Agbiz is baie dankbaar vir al die tyd wat Melcus aan Agbiz afgestaan het. “Ons het só nou saam met Melcus gewerk, dat hy soos ons eie kollega hier by Agbiz gevoel het.”
Mnr. Brad Green, ’n uitvoerende direkteur van die Signa-groep, sê Nel was verantwoordelik vir sake-ontwikkeling by Signa en het oor die afgelope 10 jaar langdurige and sterk verhoudings met kliënte en kollegas opgebou, wat hy almal as vriende beskou het.
“Hy was veral passievol oor transformasie in die landbou en sake-ondernemings in die sektor het baie op hom vertrou vir sy kennis en verteenwoordiging rakende breë swart ekonomiese bemagtiging.”
Nel laat sy vrou, Steph, drie kinders, Rohan, Monét en Coenie, en twee kleinkinders agter.