
Prof. Gerrit van Tonder, ’n kenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê volgens ’n berig op Nuus24.com, hy het in Julie verlede jaar aan boere in die Karoo gesê hulle hoef nie bekommerd te wees oor besoedeling weens dié mynmetode nie.
Ná Van Tonder egter sy navorsing in dié verband voltooi het, het sy standpunt verander. ‘‘Hidrobreking is ’n ernstige saak. Daar sal moeilikheid wees, en Shell en die ander maatskappye wat betrokke is moet kennis neem.’’
Baie seker
Van Tonder sê hy is nou ‘‘100 persent seker’’ dat ondergrondse water van die Karoo-kom opwaarts kan vloei. As hidrobreking toegelaat word, sal die water gevolglik die gifstowwe afkomstig van dié metode na varswaterbronne op die oppervlak bring.
Dít sal baie groot probleme vir boere skep. Die mynmetode gebruik sand, water en chemikalieë om vir skaliegas te prospekteer of om dit te myn.
Intussen het me. Dipuo Peters, Minister van Energie, gesê probleme met hidrobreking moet met navorsing en tegnologie oorkom word. ‘‘Ons kan nie dat ’n seën ongebruik lê nie . . . As skaliegas een van dié seëninge is, gaan ons dit gebruik."
Bron: Nuus24.com