
Ná ’n bekende kersieboer van Clocolan vir sowat ’n week lank in ’n koma was, is hy in ’n Durbanse hospitaal oorlede.
Die 80-jarige mnr. Kempen Higgo, is twee weke gelede met ’n baksteen oor die kop geslaan toe hy vis en skyfies wou gaan koop terwyl hy en sy 81-jarige vrou, Adri, in Scottburgh, aan die KwaZulu-Natalse kus, vakansie gehou het.
Luidens ’n berig in die Volksblad het die rower met Higgo se beursie gevlug. ’n Veiligheidswag het op hom afgekom en die owerhede en reddingsdienste in kennis gestel. Hy het kort ná die voorval ’n vier uur lange breinoperasie ondergaan en was sedertdien in ’n koma.
Terugslag
Higgo het erge bloeding op die brein opgedoen. Hy het verlede Donderdag (2 Augustus 2012) ’n terugslag beleef en is kort daarna oorlede.
Mnr. Gerrit Higgo, die egpaar se seun, sê hy het diep spore in die gemeenskap getrap. Hy het op die plaas Van Niekerkshoop gewoon. ’n Roudiens sal eerskomende Saterdag (11 Augustus 2012) vir hom in die NG Kerk Clocolan gehou word, waarna hy op die plaas Constantia ter ruste gelê sal word.
Bron: Volksblad