
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en mnr. Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, sal die massabegrafnis vir mee. Sesi Smit, Lerato Moloi, Mothoduwa Moloi, Nomasonto Zulu, Nokufa Monareng en Nomasutsa Moduma en die 17-jarige Rhudie Binta bywoon.
Mnr. Alheit Smit het op Vrydag 15 Julie op die slagoffers se lyke in sy plaashuis afgekom. Later dieselfde dag is twee verdagtes, mnre. Kamohelo Motankisi (34) en Lerato Selepe (22), langs ’n pad net buite die Bohlokong-township in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Daar is aanvanklik aangedui dat die verdagtes op sewe klagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens aangekla sou word. Met die verdagtes se verskyning in die Kestell-landdrofshof op Maandag 18 Julie is twee klagte van verkragting en roof met verswarende omstandighede tot die klagstaat gevoeg.
Die verdagtes het Woensdag 20 Julie weer in die hof verskyn en aangedui dat hulle nie om borgtog aansoek sal doen nie. Die saak is tot 14 September uitgestel.
Intussen sê mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, hulle verwelkom die feit dat Nxangisa se departement beoog om in te gryp by die veiligheidsituasie in veral die oostelike dele van die Vrystaat.
Volgens Wilken moet die LUR’e van veral landbou, polisie, en paaie en vervoer ernstiger hande vat om die voorbestaan van voedselsekerheid in die provinsie te verseker. “Vrystaat Landbou versoek die LUR om weer in gesprek te tree met die georganiseerde landbou, met die samewerking van die polisie, sodat praktiese oplossings en strategieë bepaal kan word oor hoe om veral eiendomsverwante misdade, waaronder veediefstal, in landelike gebiede doeltreffend aan te pak. ’n Brief met die versoek sal aan die LUR’e van polisie, paaie en vervoer, en landbou en landelike ontwikkeling gerig word.”
Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van die landelike veiligheidskomitee van Vrystaat Landbou, meen oplossings moet veral gevind word om oorgrensmisdaad doeltreffender hok te slaan. Die grootste deel van die Oos-Vrystaatse boeregemeenskap is in die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit langs die grens met Lesotho geleë. Volgens Le Roux vind meer as 45% van veediefstal in die Vrystaat daar plaas.