Die keuringsvereistes vir studente in veeartsenykunde voldoen nie heeltemal aan die land se behoeftes vir die versekering van veilige voedsel van diereprodukte nie, sê die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVV).
“Voornemende veeartsenystudente behoort nie net op grond van akademiese prestasies gekeur te word nie. Daar is ’n ernstige tekort aan staats- en plattelandse produksiedier-veeartse. Studente wat in dié loopbaanrigting belang stel, moet spesifiek ook in ag geneem word,” sê dr. Riaan du Preez, voorsitter van die vereniging.
In gesprek
Die SAVV voer geruime tyd reeds gesprek met die SA Veterinêre Raad en die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria daaroor, sê hy. Druk op die universiteit se fakulteit oor sy keuringsvereistes vir voornemende veeartse neem toe.
Die burgerregtegroep AfriForum is in ’n stryd met die universiteit gewikkel oor die vereistes waarvolgens studente vir veeartsenykunde gekeur word nadat tientalle top-matrikulante weggewys is.
Volgens AfriForum het dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, te kenne gegee dat hy in reaksie op ’n brief van die organisasie ’n verslag van die universiteit daaroor aangevra het. Die organisasie meen te veel druk word op die universiteit geplaas om regstellende riglyne te volg.
Verpligte diens
Die SAVV sê hy verwelkom die instelling van verpligte gemeenskapsdiens deur afgestudeerde veeartse omdat dit die tekort aan staats- en plattelandse veeartse sal verlig.
Die veegesondheid-en- produksiegroep (VGP) van die SAVV het reeds sy diens as mentors vir die jong veeartse aangebied. Sy geriewe is ook in vennootskapsooreenkomste tot die staat se beskikking, sê Du Preez.
12 Desember 2011