Kimberley en die Noord-Kaap sal later vanjaar die gasheer vir die internasionale wildbedryfsimposium wees. Luidens ’n verklaring sal Wildlife Ranching South Africa (WRSA) die simposium saam met die Southern African Wildlife Management Association (SAWMA) aanbied.
Me. Glaudin Kruger, wat vir die sekretariaat verantwoordelik is, sê hulle is baie optimisties oor die potensiaal wat die simposium vir die streek en die bedryf inhou. Die tema van die simposium is ‘Die besigheid van bewaring’, en daar sal onder meer op ekonomiese en wetlike sake gefokus word.
’n Wilduitstalling en ’n wildsvleisfees sal terselfdertyd op dieselfde terrein plaasvind sodat die publiek ook aan die bedryf en wye verskeidenheid van wildprodukte blootgestel kan word.
Derde simposium vir SA
Dit sal die derde internasionale simposium oor die wildbedryf wees wat op Suid-Afrikaanse bodem aangebied word. Dr. Philippe Chardonnet, voorsitter van International Wildlife Ranching (IWRS)se bestuurskomitee, sê dit kan nie aan toeval toegeskryf word nie.
“Hierdie is ? puik aanduiding van die Republiek van Suid-Afrika se leiersposisie in die wildboerdery-arena. Tydens die simposium sal daar ongetwyfeld weer breedvoerige bewys van hierdie leiersposisie gelewer word”.
Sewe soortgelyke simposiums het in die afgelope 23 jaar plaasgevind. Die vorige twee wat in Suid-Afrika plaasgevind het, is in 1992 en 2001 in Pretoria aangebied.
Die simposium sal van 10 tot 14 Oktober plaasvind. Nog inligting sal binnekort op www.iwrs.co.za beskikbaar wees.
19 April 2011