
Lede van die Sondagriviersvallei-produsenteforum ontmoet steeds met verskeie belanghebbendes om die situasie te ontlont nadat betogings tot skade van R70 miljoen aan eiendom, infrastruktuur en pakhuise gelei het en boonop R100 miljoen se vrugte bestem vir die uitvoermark vernietig het, sê dr. Hennie Ehlers, voorsitter van die Sondagsriviervallei-produsenteforum.
Hy sê die forum het intussen op die SA National Civic Organization (Sanco), wat betrokke is by onderhandelinge tussen werkernemers en werkgewers, se eise en griewe gereageer nadat die organisasie verlede week ’n petisie oorhandig het.
Volgens Ehlers verkies verskeie werknemers steeds om van die werk weg te bly. Diegene wat wel wil terugkeer, word deur faksies onder die betogers geïntimideer. Dit plaas die hele sitrusbedryf en die duisende mense wie se lewensbestaan daardeur ondersteun word, in die spervuur.
Mnr. Brent McNamara, uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap, sê geen betogings vind tans plaas nie en geen misdade wat daarmee verband hou, is die afgelope twee dae aangemeld nie. Werkers staak egter steeds en geen vrugte word gepluk of gepak nie.
Ehlers sê die skade wat die betogings die afgelope week berokken het, sal ’n verwoestende impak hê op die verhoudings tussen die gemeenskap, werknemers en werkgewers nadat die vallei die afgelope paar jaar vreedsaam was.
Dit is volgens hom te danke aan ’n samewerkingsooreenkoms wat in 2018 gesluit is. Laasgenoemde het ’n spasie geskep waar maatskaplike kwessies op ’n wettige en prosedurele wyse aangepak kan word, onder meer arbeidsgeskille.
Noemenswaardige impak op gemeenskap
“Die huidige vlaag geweld en vernietigende betogings plaas groot druk op die volhoubaarheid van sitrusplase in die streek, wat reeds onder reuse- finansiële druk is weens stygende insetkoste, wat vererger word deur ondoeltreffendheid by hawens, die globale krisis in die voorsieningsketting en die oorlog in Oekraïne.
“Dit is moontlik dat ’n hoë persentasie kwekers nie die terugslag sal oorleef nie en nie volgende jaar winsgewend sal wees nie. Dit sal ’n noemenswaardige impak op plaaslike gemeenskappe hê aangesien sitruskwekers die grootste werkgewers in die streek is.”
As gevolg hiervan en tesame met die volgehou finansiële druk op die sitrusbedryf, veral in die Sondagriviersvallei, kan kwekers volgens hom nie bekostig om die minimum lone te verhoog nie, maar hulle bly daartoe verbind om die wettige minimum loon van R23,19 per uur te betaal. Hy sê die meeste werkers word meer as die minimum loon betaal word danksy ’n aantal inisiatiewe wat boere in die gebied bekend gestel het.
Ten spyte van finansiële probleme is sitruskwekers volgens Ehlers steeds daartoe verbind om werksgeleenthede te vermeerder, terwyl die voortgesette ekonomiese ontwikkeling en opheffing van hul gemeenskappe verseker word. Lede van die forum sal steeds geld beskikbaar stel om projekte en die onderhoud van infrastruktuur te steun.
Die forum het sedert 2018 meer as R22 miljoen tot verskeie projekte bygedra. Dit het ook R50 miljoen by die regering bekom om water- en sanitasie-infrastruktuur op te knap. Die heffings wat sitruskwekers aan die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging se sitrusakademie betaal, word gebruik om verskeie opleidings- en onderrigprogramme te finansier wat lede van die gemeenskap in staat stel om onafhanklike diensverskaffers te word.
“Terwyl die forum die eis om die minimum loon te verhoog van die hand gewys het, is ons steeds bereid om realistiese versoeke rakende die opheffing en verbetering van die Sondagsriviervallei se gemeenskap se omstandighede te bespreek,” sê Ehlers.
“Wat die bewerings rondom onwettige en onregverdige gedrag deur sommige kwekers betref, sal ons ’n onafhanklike spesialis in arbeidswetgewing of erkende onafhanklike forum aanstel om die bewerings te ondersoek. Die departement van indiensneming en arbeid sal betrek word indien enige wetgewing in verband met die minimum loon, ander arbeidswetgewing of menseregte oortree is.
“Die forum bly daartoe verbind om werksaamhede voort te sit op ’n inklusiewe, objektiewe en regverdige wyse, terwyl hierdie kwessies aangepak word. Ons versoek alle lede van die gemeenskap en die voorsienings- en waardeketting om saam te werk ten einde die situasie te normaliseer sodat ’n oplossing sonder verdere geweld en vernietiging gevind kan word.”