
Drie jaar gelede het twee Nieu-Seelandse boere grappenderwys Facebook- en Twitter-rekeninge vir hul boerdery geregistreer. Min het hulle geweet hoeveel hierdie stap vir hul boerdery werd sou wees. Met sosiale media kry hulle die geleentheid om ’n verhouding met verbruikers te bou – ’n bemarkingskans wat goud werd is en ’n nuwe teikenmark gevestig het.
Mnr. Jeremy en me. Naya Wilhelm boer al meer as vyf jaar met 20 vrylopende Groot Swart-varke, oorspronklik van Britse afkoms. Aanvanklik het die Wilhelms hul eie vleis verwerk en regstreeks aan individue en op plaasmarkte verkoop. Om meer bereikbaar vir hul klante te wees, het die Wilhelms op hul webwerf ’n bestelvorm aangebring. Dit was onmiddellik ’n sukses. “Net daar het ons besef ons benut nie die geleentheid om met behulp van die internet elke dag met ons klante te kommunikeer nie. Waar bemarking voorheen iemand moes oortuig van ’n produk, het ons nou die geleentheid om ’n verhouding te bou. Hierdie regstreekse wisselwerking met die verbruiker was vir ons goud werd,” verduidelik Jeremy.
Die vleis wat die verbruiker gekoop het, was dus nie meer net ’n tjop op die vuur teen die laagste prys nie, maar ’n belegging in ’n boerdery waarin hulle glo. Die bykans 800 aanhangers van die boerdery se Twitter-profiel (@longbushpork) het die sôe op die naam geleer ken en die karakter van die boerdery begin waardeer – en ook gaande geraak oor hul varkvleis.
Die Wilhelms se mark het nou verskuif van regstreekse verkope aan die publiek na verkope aan restaurante en sjefs wat, teen ’n premie, hierdie produk wil gebruik as ’n trekpleister vir klante in hul restaurante. ’n Voorbeeld daarvan was ’n onlangse kompetisie waarin die Ti Kouka-restaurant in Wellington tien LongbushPork-burgers teen NZ$300 (ongeveer R2 500) op die internet opgeveil het.
Bou ’n handelsmerk
Ook op die plaas het dit voordele, want Jeremy kan nou wegbeweeg van die duur en tydrowende voedselveiligheidvereistes in die slaghuis en eerder sy hulpbronne en tyd op die boerdery toespits.
Kan groter kommersiële boerderye dit ook doen? “Deur die interaksie kry die publiek begrip vir al die aspekte van ’n boerdery en die faktore wat daarop ’n invloed het. Groter boere kan soveel meer sake- en maatskaplike eienskappe uitbeeld en die publiek sal nooit verveeld wees nie. Die feit dat ’n groter kommersiële boer nie regtig ’n Twitter-profiel nodig het om sy bemarking te doen nie, speel boonop ’n enorme rol vir geloofwaardigheid. Daar sal mos geen ander rede wees as die behoefte aan wisselwerking waarom ’n groot kommersiële boerdery sosiale media sal benut nie,” meen Jeremy.
“Sodra die publiek egter agterkom dit is ’n bemarkings- of ’n propagandaveldtog, keer hulle jou die rug toe. As jy as boer egter trots is op wat jy doen en dit op ’n eerlike, beleefde manier weergee, sal die publiek al meer by jou wil weet. Die ironie van hierdie wisselwerking is dat dit is nie net ’n ongelooflik goeie manier van bemarking is nie, maar kort voor lank is daardie tipe eerlike, spontane kommunikasie ’n beter getuigskrif vir ’n bedryf as wat ’n bedryfsorganisasie ooit kan uitbeeld.”
Jeremy sê enige boer stel homself bloot aan diegene wat die mes in het vir kommersiële boere. “Die dieresorgaktiviste is veral bedrywig op sosiale media. “Ons het ondervind dat die regstreekse wisselwerking met die publiek ’n klinkklare wyse is waarop die vyandigheid en skandvlekke eerstehands uit die weg geruim kan word. Ons het niks om weg te steek nie en dit is duidelik dat dit die wyse is waarop ons te werk moes gaan.”
SA boere twiet net so lekker
Volg gerus die Suid-Afrikaanse boere wat gereeld oor hul doen en late op die plaas twiet:
? @ZZ2farming en @TommievanZyl (Hulle boer met ’n
verskeidenheid groente in Limpopo);
? @KalahariFarmerZA (Simmentalerboer);
? @Erdwurmboer (Jannie Pretorius van Hartswater);
? @solms_delta (Franschhoekse wynplaas);
? @hencoebonsmaras (Bonsmara-stoetery van Prieska);
? @TheDriftFarm (wyn, organiese groente, heuning en
olyfolie, Napier);
? En, natuurlik, @landbou en al ons joernaliste vir die jongste landbounuus in SA!