
Die reuse groei in vonkelwynverkope in die plaaslike mark bewys Suid-Afrikaners het die afgelope 15 jaar ’n groot liefde vir wyn met ’n borrel daarin ontwikkel.
Met die totstandkoming van die Cap Classique-uitdaging in 2002 is net 700 000 bottels Cap Classique (vonkelwyn gemaak volgens die tradisionele Champenoise-metode) plaaslik van die hand gesit. Vandag word 3,5 miljoen bottels Cap Classique in Suid-Afrika verkoop en ’n verdere 2,5 miljoen uitgevoer.
Altesaam 220 Suid-Afrikaanse wynprodusente maak vonkelwyn volgens die klassieke metode. Daar is nie minder nie as 300 unieke produkte in die land. Volgens mnr. Joaquim Sá kan plaaslike Cap Classique kers vashou by enige van sy internasionale eweknieë. Sá is direkteur van die kurkmaatskappy Amorim, wat die uitdaging geborg het.
“Die kompetisie het wynmakers aangemoedig om aan te hou streef na die perfekte Cap Classique. Die wynmakers het hul werk in die kelders gedoen en tegniese struikelblokke oorkom om Cap Classique se gehalte uit te bou. Die gewildheid daarvan onder verbruikers is duidelik in die sterk groei wat dit op ’n jaargrondslag toon. Cap Classique maak ook sommige van die sterkste handelsmerke in Suid-Afrika uit.”
Gehalte verbeter
Me. Elunda Basson, keldermeester by JC le Roux en ondervoorsitter van die Cap Classique-vereniging, sê vonkelwyn het plaaslike verbruikers se verbeelding aangegryp.
“Die land produseer nog net 45 jaar lank Cap Classique, maar ons het dit gevestig as deel van die wynkultuur in Suid-Afrika. Die volgende uitdaging is die internasionale mark, maar ons glo dit het ’n goeie plek danksy die gehalte daarvan.”
Anura Vineyards is tydens vanjaar se uitdaging in Kaapstad as die beste produsent aangewys. Altesaam 113 vonkelwyne is beoordeel. Volgens mnr. Allan Mullins, hoofbeoordelaar by die uitdaging, verbeter die gehalte van die wyn wat hulle moet evalueer, jaarliks.
Volgens hom verg dit uitstekende besluitneming om goeie Cap Classique te maak.
“Dit begin by die tipe druiwe wat jy plant en waar jy dit plant. Jy wil nie ryp, vrugtige geure hê nie, maar soek die suur. Dis waarom koel klimaatstreke, waar die druiwe stadig ryp word, soos Champagne in Frankryk, ideaal is. Jou volgende belangrike besluit is wanneer om jou druiwe te oes. As jy dit te lank los, is die suiker te hoog, maar as jy te vroeg pluk, is dit groen.
Die versnyding van die basiswyn is ’n kuns. Daarna moet jy dit in die bottel laat gis en die tyd wat jy dit op die gismoer los, is belangrik.”