
Die Klein-Karoo Groep (KKG) het sy totale inkomste vir die finansiële jaar wat op 30 Junie geeindig het met 32,4% opgestoot tot R1,24 miljard met die verhandeling van volstruisvleis, -leer en vereproduke, asook saad en ander produkte, is deur mnr. Johan Stumpf, uitvoerende hoof van die groep, tydens hul jaarvergadering op Oudtshoorn bekend gemaak.
Netto wins ná belasting het met R33,7 miljoen gestyg tot R58,2 miljoen. “Ondanks baie eksterne omstandighede wat betref volstruisprodukte, kon die groep ’n stewige groei handhaaf en ’n rekordjaar is behaal.”
“Wat Klein-Karoo Internasionaal (KKI) betref, het die volgehoue embargo op die uitvoer van vars volstruisvleis weens die voëlgriepverbod, steeds produksiegetalle beïnvloed. Vanjaar het die laagste volstruisslagtings in die geskiedenis van die bedryf voorgekom – 18 000 minder vir die jaar wat op 30 Junie 2014 geeindig het teenoor dieselfde tydperk die vorige jaar. “Dit is 142 000 minder slagtings as voor die voëlgriep-uitbraak in 2011.”
Die sterk leermark het egter geleenthede geskep vir uitstekende internasionale pryse. Die omset vir leer met R115,2 miljoen gestyg. Die omset vir volstruisvleis het met R16,4 miljoen gestyg, terwyl vere dieselfde winsvlakke gehandhaaf het.
Die binnelandse verbruik van volstruisvleis het in die laaste jaar met 10% gegroei. “Volstruisvleis het nou van ’n nismarkproduk verander in ’n hoof verbruikersproduk.”
Die saadomset het met 30% gestyg na belasting – die beste ooit. Betalings aan saadprodusente het met 54% gestyg.