Kleinboere kan dalk baat vind by ’n boek wat onlangs deur die Noordwes-universiteit bekend gestel is.
Dié boek, Unlocking markets to Smallholders: Lessons from South Afrika, poog om kleinboere te bemagtig deur te fokus op produksie, bemarking, landbou-instellings, volhoubaarheid en om toegang tot markte te kry.
Die boek is pas op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit bekend gestel en is ‘n produk van ’n navorsingsprojek wat reeds in 2004 begin het.
Volgens prof. Aad van Tilburg van die Wageningen-universiteit in Nederland en een van die redakteurs, werp die publikasie lig op die diverse faktore wat toegang tot uitsetmarkte vir Suid-Afrika se kleinboere beïnvloed waar hulle die nodige insette en plaasdienste kan bekom.
Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU-Puk en landboukundige, is ook een van die boekredakteurs. Hy het gesê die boek beoordeel die institusionele, tegniese en markstruikelblokke, asook geleenthede vir kleinboere, veral opkomende boere in agtergeblewe gebiede soos die vroeëre tuislande van Suid-Afrika.
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê die balans tussen klein- en ontwikkelende boere en kommersiële boere is belangrik vir politieke bestendigheid en voedselsekuriteit en dat dit belangrik is dat die twee groepe mekaar ondersteun. “Ontwikkelende boere moet eindelik ook in kommersiële boere ontwikkel.”
Die boek is geredigeer deur proff. Herman van Schalkwyk, Ajuruchukwu Obi, Aad van Tilburg, Jan Groenewald en Gavin Fraser. Die uitgewers van die boek is die Mansholt Series of Wareningen Academic Publishers.
17 Mei 2012