
Me.Tina Joemat-Pettersoson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die staat op ’n onlangse feitesending na Costa Rica om meer te leer van Walmart se inisiatiewe vir kleinboere in dié land, verbind tot dieselfde inisiatiewe in Suid-Afrika.
Luidens ’n verklaring het die minister en ’n afvaardiging, wat verteenwoordigers van Agri SA, die TLU SA, die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) en die National African Farmers’ Union (Nafu) ingesluit het, die land besoek.
Suid-Afrika het nog altyd na Europa en Noord-Amerika gekyk vir leiding in sy doen en late, maar die minister sê nou kan die land selfs meer leer by sy eweknieë in die Ooste en ander ontwikkelende lande. “Ons is daartoe verbind om handelskakels te ontwikkel en veral van Costa Rica se kleinboere te leer.”
Masibambisane
Joemat-Petersson sê die Regering wil soortgelyke strukture vir plaaslike kleinboere ontwikkel as dié wat in Costa Rica bestaan, en die bestaande Masibambisane Landelike Ontwikkelingsprogram is ’n voorbeeld daarvan.
Die projek is al in werking gestel in twee provinsies waar kleinboere gehelp word om te meganiseer word deur die oorhandiging van vragmotors, implemente asook deur Nguni-beeste aan hulle te oorhandig. Die projek se doelwitte is om toegang tot markte, finansies en vaardighede aan kleinboere te verskaf. Pres. Jacob Zuma is aan die stuur van die projek.
Walmart
Mnr. Mncane Mthunzi, uitvoerende beampte van die Massmart-Walmart groep se verskaffersontwikkeling, sê die minister se verbintenis tot en opgewondenheid oor samewerking met Walmart het hom verras. “Sy het die konsep om kleinboere te bemagtig omarm en ons sien daarna uit om ’n vennootskap met haar departement aan te gaan om dié doelwit te bereik.”
Mnr. Mhlobo Mthombeni, woordvoerder vir Afasa, sê Walmart doen vir kleinboere wat Afasa se visie vir kleinboere in Suid-Afrika is. Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê hy hoop die bedryf sal die inisiatiewe en nuwe idees wat Walmart na die sektor gebring het, verwelkom.
“Die hoeveelheid opleiding en tegnologie het vir my uitgestaan, opleidingsondersteuning en markontwikkeling is nodig vir diebedryf om te groei. Die feit dat Massmart-Walmart gewillig is om daarin te belê en die bedryf wil sien groei, is verstommend,” aldus Meintjes.