Afrika se sukses in die groen ekonomie is gesetel in sy kleinboere, sê mnr. Jerry Steiner, uitvoerende ondervoorsitter van Monsanto in Amerika. Steiner was een van die sprekers op die Wêreld Ekonomiese Forum oor onder meer hoe Afrikalande die potensiaal van ’n groen ekonomie kan ontgin.
Studies wys dat ’n groen ekonomie werkskepping wêreldwyd in sleutelsektore, soos die landbou-, konstruksie-, bosbou- en vervoerbedryf, ’n hupstoot kan gee. Steiner sê stappe moet nou gedoen word om te verseker dat die produktiwiteit van kleinboere verhoog en die waardeketting versterk word.
Hy meen dit is ’n belangrike deel in die strewe om groener te word. Die tweede stap sal wees om na grondvrugbaarheid te kyk. Afrika suid van die Sahara verloor sowat 8 miljoen ton grondvoedingstowwe per jaar.
Meer as 95 miljoen hektaar grond het nou lae produktiwiteitswaarde. Volgens hom is daar geen rede dat tegnologie wat vir die res van die wêreld ontwikkel is, nie ook in Afrika gebruik kan word nie.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het op die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling (IFAD) se besprekingsforum oor nuwe uitdagings en geleenthede in die landbou in Afrika gesê kleinboere moet nie as welsyngevalle gesien word nie, maar as mense wie se innovering en harde werk vooruitgang na hul gemeenskappe en voedselsekerheid na die wêreld in volgende decades sal bring.
Sy sê talle uitvoermarkte sluit kleinskaalse verskaffers uit. Dit is meegebring deur die instelling van hoër produk- en verwerkingstandaarde deur noordelike kleinhandelaars.
Daar is egter wel internasionale waardekettings wat geleenthede bied vir dié verskaffers en ander landelike mense wat werk in onder meer die landbouverwerkingsbedryf.
10 Mei 2011