
Mnr. Nico Groenewald, hoof van landbousake by Standard Bank, sê die bank se siening is dat kleinskaalse boere iets soortgelyk aan die koöperasies van die verlede nodig gaan hê.
“Enkelspelers gaan dit al moeiliker vind om die skaalekonomieë te bereik wat nodig is om marges te verbeter terwyl produksie vergroot word,” het Groenewald gesê in ’n verklaring wat uitgereik is tydens 'n besprekingsessie wat die bank in Johannesburg gehou het. Dit was een van ’n reeks sessies wat in elke provinsie met rolspelers gehou word om oor neigings in die landbou te praat.
Groenewald het gesê die koöperasies van die verlede het gewoonlik op berging en bemarking gefokus, wat ’n te smal fokus vir vandag se landbousektor is. “Maar die beginsel dat bedrywighede met soortgelyke belange vir wedersydse voordeel saamgroepeer, is goed.”
Groenewald sê die fokus die volgende vyf jaar gaan op grootte wees, omdat dit is waar onderhandelingsmag lê. “Dit beteken nie elke boer hoef op groter skaal te boer nie. Samewerking verleen baie makliker grootte.”
Hy het ’n voorbeeld genoem van 'n groep van 36 boere wat elkeen verskillende behoeftes aan produksiemiddele het, en wat saamgekom het om aan verskaffers een groot “kliënt” met veelvuldige vereistes te bied.
Geleenthede in waardeketting
Groenewald het gesê die landbou moet op plaasvlak herstruktureer om die geleenthede in die waardeketting te benut. “ Die enigste realistiese manier vir boere om marges betekenisvol te vergroot is om te deel in die marges van almal in die waardeketting. Ons moedig boere aan om die beskikbare moontlikhede te oorweeg om self waarde tot hul produk te voeg, en selfs daaraan te dink om hul eie handelsmerk te ontwikkel. So kan hulle regstreeks in die verbruiker se beursie deel.”
Groenewald het gemaan dat herstrukturering net vanaf 'n reeds suksesvolle produktiewe grondslag gedoen moet word. “Enige groei vanaf ’n foutiewe grondslag sal van korte duur wees. Die weg na volhoubaarheid is om uitstekend te wees voordat jy groter word,” sê Groenewald.