
Op die derde sybokhaar-winterveiling in die Baai was kleinbokkiehaar die uitblinker en het met 4,5% gestyg tot R401,36 per kilogram.
Jongbokke was onveranderd op R247,46 per/kg asook fyn grootbokke en sterk grootbokke wat onderskeidelik teen R170,63/kg en R143,88/kg van die hand gesit het. Die gemiddelde markaanwyser van R178,71 is 1,3% hoër as die vorige veiling.
Die hoogste prys was R550 per kilogram en is betaal vir ’n baal superfyn, 26 mikron kleinbokkiehaar van mnr. Stefan Steynberg van Aberdeen. ’n Skeersel van Bonnievale Boerdery op Fraserburg is ook op CMW se veiling teen gemiddeld R290,61 per kilogram van die hand gesit, wat die beste gemiddelde prys sover die seisoen is.
Die grootste koper was die Stucken-koperhuis (557 bale) gevolg deur Samil (536 bale) Mosenthals (216 bale), Mohair and Wool Traders (104 bale) en New Engeland Wool wat 82 bale gekoop het. Die veilingsomset was bykans R33-miljoen vir die 184 436 kg wat van die hand gesit is. Die volgende veiling is op 7 Oktober.