
In baie wyndruif-produksiegebiede is verlede jaar rekord-oeste afgehaal, wat nie sommer herhaal sal kan word nie. Die rede daarvoor die die huidige hitte en die kwaai winde vanjaar. “Tog gaan die oes vanjaar steeds uitstekend wees,” het mnr. Francois Viljoen, bestuurder vir konsultasiedienste by Vinpro, op die organisasie se inligtingsdag in Kaapstad gesê.
Slegs in die Noord-Kaapse wynstreke word ’n hoër oes verwag as die 131 503 ton in 2014. In die Olifantsrivier- en Robertsonstreke word ongeveer dieselfde oes vanjaar verwag (237 500 ton en 224 700 ton onderskeidelik in 2014). In ál die ander streke – Swartland, Klein-Karoo, Paarl, Stellenbosch, Breedekloof en Worcester – gaan die oeste vanjaar ietwat kleiner wees ná die rekord-oeste van 2014.
Viljoen het gesê ten spyte daarvan dat meer wynwingerd tans uitgehaal as wat geplant word, styg produksie. ’n Neiging ontstaan dat meer witwynkultivars gevestig word as rooi-kulktivars – wat kan beteken dat tekorte aan rooiwyn dalk in die toekoms mag ontstaan. Vier kultivars maak tans meer as 70% van alle wyndruiwe in Suid-Afrika uit, naamlik Chenin blanc (28%), Pinotage (20%), Colombar (18%) en Shiraz (11%).
Wat internasionale aanplantings van wyndruiwe betref, daal die hoeveelhede hektare wêreldwyd, behalwe in China, Amerika en Chili. Groot afnames is veral in ou tradisionle wynlande aan die orde van die dag, soos Spanje, Frankryk en Italië. “Daarom is die afname in aanplantings in Suid-Afrika glad nie uniek nie – dit kom wêreldwyd voor,” het Viljoen gesê. In die meeste Nuwe Wêreld-wynlande bestaan die neiging dat meer druiwe van minder hektare afgehaal word weens verbeterde kultivars.