
Die inkorting van die SKA-radioteleskoopprojek se begroting gaan net die lengte van die sogenaamde spirale uit die kern beïnvloed, nié die grootte van die kern of die aantal betrokke plase nie.
Volgens mnr. Lorenzo Raynard, hoof van kommunikasie en verhoudinge met belanghebbendes, sal die maksimum afstand tussen antennes verklein word van 150 km tot 120 km. In dié deel van die eerste fase van die SKA in Suid-Afrika, sal die antenne aan die einde van elk van die drie spirale nie meer opgerig word nie, sodat daar 130 antennes pleks van 133 sal wees. Hy sê as meer lande by die SKA aansluit of die bestaande lede ’n groter bydrae maak, sal hulle teruggaan na die oorspronklike ontwerp.
Raynard sê die kleiner begroting beïnvloed nie die grondverkrygingsproses, wat sowat driekwart afgehandel is, nie. Hy sê SKA Suid-Afrika bly daartoe verbind om te verseker dat die optimale grondgebruik voortduur in samewerking met die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk (SAEON), Agri Suid-Afrika en SA Nasionale Parke.
Die kleiner begroting benadeel ook nie SKA se program vir die ontwikkeling van menslike kapasiteit in terme van hulp aan sowat 900 studente nie. Raynard sê prosesse om koste in toom te hou, is nie vreemd by groot wetenskap-infrastruktuurprojekte nie.