Die kleinveesiekte Peste des Petit Ruminants (PPR) versprei stadig suidwaarts en die gevaar wat dit vir Suid-Afrika kan inhou, moet nie onderskat word nie, waarsku prof. Moritz van Vuuren van die Universiteit van Pretoria se departement veterinêre tropiese siektes.
Die siekte veroorsaak hoë vrektes onder wild en kleinvee en daar is in Augustus verlede jaar in dié verband vrae gevra oor springbokvrektes by De Aar, het hy by Gariepdam op die kongres van die SA Veterinêre Vereniging se veegesondheid-enproduksiegroep (LHPG) gesê.
Die rol van wild in die oordrag van die siekte is nog nie bekend nie. Onder kleinvee word dit slegs deur nabye kontak oorgedra. Die siekte is soortgelyk aan runderpes by beeste. “Die kans op verspreiding oor groot afstande is bitter skraal sonder die verskuiwing van diere. As Suid-Afrika die beweging van diere in en uit die land kan beheer, behoort ons kleinveebevolking veilig te wees.”
Van Vuuren het ook verwys na die beduidende toename van slenkdalkoors in die land en gewaarsku dat meer uitbrekings verwag kan word. Die moontlikheid bestaan dat die siekte endemies is aan sekere gebiede in die land waar oordrag voortdurend plaasvind.
“Boere sal anders moet dink oor slenkdalkoors en dit as ’n siekte begin beskou waarteen jaarliks ingeënt moet word,” het hy gesê.
4 April 2011