
“Die kwessie van klimaatsverandering is die grootste uitdaging wat die mensdom in hierdie eeu in die gesig staar”, sê me. Edna Molewa, die Minister van Omgewingsake en Waterwese. Sy het Vrydag (1 April) in ’n werksessie in Midrand opgemerk hoe vinniger die mensdom dié feit besef en begin saamwerk, hoe beter sal dit vir almal wêreldwyd wees.
Dit is die eerste openbare werksessie wat gehou is voor Suid-Afrika die 17de klimaatsveranderingskongres, COP 17, in Desember vanjaar aanbied.
Landbou hard geslaan
Molewa het opgemerk dat die droogtes, hoë reënval en oorstromings wat die afgelope paar jaar in die land voorkom, ’n gevolg van klimaatsverandering is en dat dit die landbou en landelike gemeenskappe die ergste raak.
“Dit ontwrig boeregemeenskappe op wie ons baie staatmaak vir voedselvoorsiening die meeste”, aldus Molewa. Die minister sê wetenskaplikes verwag dat dit gaan vererger.
Bindende ooreenkoms
Volgens Molewa sal die Regering se amptelike standpunt oor bepalings vir COP 17 teen Junie afgehandel wees. “Ons hoop ’n bindende politieke ooreenkoms sal uit COP 17 kom. Vir die kongres in Durban om te slaag, moet die Regering, die private sektor, omgewingsorganisasies en die burgerlike samelewing saamwerk.”
Intussen sê me. Maite Nkoana-Mashabane, die Minister van Internasionale Samewerking en die voorsitter van die interministeriële komitee vir COP 17, sy en ’n span regeringsamptenare en ander verantwoordelike rolspelers het Mexiko verlede week besoek.
“Uit die samesprekinge wat daar plaasgevind het, het ons waardevolle inligting ter voorbereiding vir COP 17 gekry. Dit is duidelik dat om al die probleme vir COP 17 aan te pak, Suid-Afrika baie innovasie aan die dag sal moet lê.”
Die ministers het alle sektore wat deur die natuurverskynsel geraak word, gevra om hul gewig by COP 17 in te gooi en te help om dit ’n sukses te maak.
1 April 2011