Die oplewing wat die rooibosmark ervaar, kan deur veranderende weerstoestande gekelder word.
Luidens ’n berig op News24.com moes rooibosboere in die Wes-Kaap reeds hul tegnieke aanpas omdat die omgewing droër word. Die bedryf het die afgelope 13 jaar ’n groei-ontploffing ervaar, met ’n omset van sowat R600 miljoen.
Mnr. Willem Engelbrecht, eienaar van die Groenkol-rooibosteelandgoed, sê die weer het die afgelope 10 jaar al baie verander met meer en meer vreemde dinge wat gebeur.
Die gunstige produksie van dié tee word juis toegeskryf aan die unieke klimaat wat in die Wes-Kaap ervaar word. Pogings is al aangewend om dit in ander wêrelddele te verbou, is maar dit het nog net in Suid-Afrika geslaag.
Uiterste temperature
Engelbrecht sê die omgewing loop onder uiterste temperature in die somer en winter deur. In die somer kan dit tot 48 °C bereik, terwyl dit gedurende die winter tot onder vriespunt kan daal.
Hy sê die somers raak nou warmer en die winters droër. “In die verlede het ons die grond geploeg, maar deesdae ploeg ons minder en hou ons die materiaal op die grondoppervlak om as isolering te dien om die vog te behou.”
Kenners voorspel dat die Wes-Kaap oor die volgende 100 jaar hard getref kan word deur klimaatsverandering.
“’n Moontlike situasie is dat ’n temperatuurstyging van sowat 3 °C oor die grootste deel van die omgewing aangeteken kan word,” aldus dr. Francois Engelbrecht, verteenwoordiger vir die Suid-Afrikaanse Raad vir Wetenskaplike en Bedryfsnavorsing. Hy sê die omgewing sal terselfdertyd moontlik droër word, wat nie ’n baie goeie vooruitsig is nie.
Bron: News24.com
27 Februarie 2012