Verskeie sake moet in ag geneem word met die beplanning van die 17de internasionale klimaatveranderingskongres wat volgende jaar in Durban plaasvind, sê kundiges.
Tydens ‘n perskonferensie in Pretoria het me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, gesê sy verwag dat 2011 se kongres deels soos die onlangse een in Cancun, Mexiko en deels soos 2009 se kongres in Kopenhagen, Denemarke, sal wees.
Die kongres in Kopenhagen het opslae gemaak vir omstrede onderlinge worstelinge en die feit dat duisende burgerlike organisasies op die kongres toegesak het. Volgens Molewa was die kongres in Cancun meer gebalanseerd, en hoewel geen wettig bindende ooreenkomste aangegaan is nie, is sy tevrede met die meeste ondernemings by die kongres.
Verskillende vergaderpunte
Die minister verwag dat meer as 15 000 afgevaardigdes aan die kongres gaan deelneem. Sy sê hoewel baie vergaderings ter voorbereiding sal plaasvind, is daar al oplossings vir sommige probleme.
“Vir die burgerlike samelewing sal daar geleenthede gebied word om hul saak te stel, maar dit sal by ander vergaderplekke in die land gereël word. Die konferensie self – wat in Durban gaan plaasvind – sal volgens die bepaalde voorskrifte plaasvind soos wat in Cancun die geval was.”
Mnr. Alf Wills, Suid-Afrika se hoof onderhandelaar vir klimaatverandering, sê Cancun se sukses kan deels toegeskryf word aan die feit dat die land baie meer vergaderings en beplanningsessies ter voorbereiding gehou het as wat formeel voorgeskryf word. Hy sê om ‘n "Kopenhagen-sage” te voorkom moet die gasheerland die internasionale gesindheid fyn dophou om te bepaal waarvoor die wêreld gereed is.
Molewa sê konsultasies oor die kongres sal in Januarie volgende jaar aanvang neem, en sy wil die land tydens die kongres aan die wêreld bekendstel soos wat dit tydens die jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi gedoen is.
Ooreenkomste uit Cancun
Volgens die minister is drie ooreenkomste tydens die samesprekings in Cancun aangegaan:
Eerstens ‘n terugblik en uitbreiding van die ooreenkoms wat tydens samesprekings in Bali in 2007 aangegaan is, veral rakiende ‘n wêreldklimaatfonds en die vasstelling van ‘n raamwerk vir ‘n aanpassings strategie en aanpassingskomitee.
Tweedens het besluite by die kongres ook ‘n proses vasgestel vir die beheer en werking van operasionele modelle vir die Groen Klimaatsfonds en die aanpassingskomitee.
Derdens is kwessies waaroor al die partye nog nie kon ooreenkom nie vir onderhandeling na die ad hoc-werkgroepe en ander liggame verwys.
17 Desember 2010