
Navorsers verbonde aan die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Grond, Klimaat en Water het daarop gewys dat klimaatsverandering in die toekoms die produksiestreke van Suid-Afrika se belangrikste kommoditeite kan laat krimp.
Die invloed van klimaatsverandering op Suidelike Afrika se produksiestreke kan daartoe lei dat die mielieproduksiestreke krimp en meer ooswaarts beweeg. Makadamiaproduksie in die Limpopo-provinsie gaan heeltemal ophou en meer suidooswaarts na KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap beweeg.
Mnr. Harold Weepener, navorser verbonde aan die LNR se Instituut vir Grond, Klimaat en Water, het tydens die Landboubesigheidskamer se graansimposium gesê dat Suid-Afrikaanse weerstoestande binne die volgende 70 jaar sodanig kan verander dat produksiestreke ernstig beïnvloed gaan word.
“Studies wys dat, alhoewel reënval in Suid-Afrika oor die volgende paar dekades nie beduidend hoër gaan word nie, gemiddelde temperature na verwagting in die toekoms met tussen 0,5ºC tot 2ºC gaan styg. Daar is dus ’n tendens vir warmer en droër toestande,” het hy gesê. Dit gaan die verskillende Köppen-Geiger-klimaatsones in Suid-Afrika laat verander.
“Suid-Afrika beskik tans oor drie verskillende klimaatsones: droog, tropies en gematig. Die tropiese klimaatsone sal na verwagting begin suidweswaarts beweeg na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal toe, wat die produksie van veral makadamianeute in Limpopo gaan beïnvloed. Die Limpopo-provinsie gaan na verwagting teen 2090 nie meer ’n geskikte klimaat vir die verbouing van die neute hê nie. Die Oos-Kaapse, en KwaZulu-Natalse binneland gaan egter al hoe meer geskik word vir makadamiaproduksie,” het Weepener gesê.
Droëlandverbouing van mielies gaan ook verander, met produksiestreke van mielies wat meer ooswaarts beweeg namate temperature in die westelike gebiede van die land styg en reënval verminder.
“Limpopo gaan hier ook al hoe minder geskik word vir droëland-mielieproduksie, terwyl daar ’n inkrimping vanuit die westelike gedeelte van die land gesien word vir die geskiktheid om droëlandmielies te verbou. Gemiddelde klimaatsprojeksies vir 2015, 2030, 2060 en 2090 dui daarop dat die droëland-mieliestreek gaan krimp, met hoofsaaklik gedeeltes van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng wat as optimale mielieproduksiestreke gesien sal word. Kleiner gedeeltes van die noordoos-Vrystaat en oostelike streke van Noordwes sal egter steeds ook droëlandmielies kan verbou,” het Weepener gesê.
Hy het daarop gewys dat sonneblom dieselfde patroon as droëlandmielies volg, terwyl winter- en somerkoringproduksiegebiede grootliks onveranderd gaan bly.
Nie alles slegte nuus nie
Weepener het gesê dat die klimatologiese tendense egter net weersomstandighede in ag neem, en dat daar ander faktore ’n rol kan speel om die uitwerking van hoër temperature teen te werk.
“Die ontwikkeling van nuwe kultivars kan dit byvoorbeeld moontlik maak om in hoër temperature te plant, wat die produksiegebiede dienooreenkomstig sal beïnvloed. Klimaatsverandering sal egter ook die vrugbaarheid en verspreiding van plantsiektes en plae beïnvloed, en met hoër temperature kan die patogene en plae beter oorwinter. Dit kan ook die infeksie van swamme verhoog,” het Weepener gesê.
Die invloed van hoër vlakke van koolstofdioksied moet ook nie buite rekening gelaat word nie, het hy gesê. “Verhoogde koolstofdioksied-vlakke sal heel moontlik ’n positiewe uitwerking op die potensiële waterverbuikdoeltreffendheid en gewasproduktiwiteit uitoefen. Gewasse soos aartappels, katoen, koring en sojabone trek aansienlik voordeel uit atmosferiese koolstofdioksied,” het Weepener gesê.
Laastens het hy gesê dat die rol van klimaatmonitering deur ’n hoëgehalte netwerk van weerstasies nie onderskat kan word nie. “Hierdie stasies speel ’n deurslaggewende rol om klimaatverandering te monitor, te onderskei tussen verandering en variasie en om klimaatveranderingprojeksies oor tyd te evalueer,” het hy gesê.