
Klimaatverandering is ’n tydbom wat lê en wag en sal grootskaalse veranderings in die landbou noodsaak, het dr. Ilse Trautmann, hoofdirekteur van navorsing en tegnologiese ontwikkelingsdienste van die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê.
Sy het gesê die voorkoms van die herfs-kommandowurm wat Suider-Afrika hierdie somer vir die eerste keer getref het en groot skade aan gesaaides aangerig het, en Tuta absoluta, oftewel die tamatieblaarmyner, is aan aardverwarming verbind. Sy het bygevoeg die landbou moet nóú reeds beplan en kan nie wag vir môre nie.
Dit sluit die identifisering van gewasse in wat beter by die verwagte moeiliker boerderytoestande sal aanpas, en die uitskakeling van gewasse wat nie die mas opkom nie. “Die Wes-Kaap het in die onlangse verlede miljarde rande se skade weens natuurverskynsels gehad. Dit sal planne met oplossings verg,” het sy gesê.
Dr. Johan Strauss, senior landboukundige, het gesê menige Wes-Kaapse boere haal reeds wingerde uit en vervang dit met sitrus, omdat die provinsie betreklik min sitrussiektes het en nie deur swartvlek gepla word nie. Selfs koringboere plant nou sitrusbome.
Mnr. Darryl Jacobs, assistent-direkteurgeneraal, het gesê sekere dele sal nie langer voedsel kan produseer nie, maar nuwe gebiede sal beskikbaar raak. “Die goeie nuus is dat die landbou op die vooraand van ’n tegnologierewolusie staan wat boere sal help om voort te bestaan,” het hy gesê.