Sestien van die wêreld se voorste landbou-organisasies het by COP17-onderhandelaars gepleit dat die landbou in ’n klimaatsooreenkoms ingesluit moet word.
In ’n ope brief het organisasies, soos die Wêreldbank, die Wêreld-landbou-organisasie, die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies, die CGIAR-navorsingsprogram oor klimaatsverandering en die Netwerk vir Beleidsanalise oor Voedsel, Landbou en Natuurlike Hulpbronne op die belangrikheid van ’n spesifieke aksieplan vir landbou gewys.
Om landbou en bosbou in die kollig te plaas, is ’n landbou- en landelike ontwikkelingsdag gehou wat deur 500 belanghebbendes bygewoon is. Die jaarlikse Wêreld-bosboudag is ook in Durban gehou.
By dié geleentheid het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê klimaatsverandering dreig om baie van die ontwikkelingsdoelwitte van lande in Afrika en in die res van die ontwikkelende wêreld te ondermyn, veral wat water, energie, gesondheid, landbou en bosbou betref.
Ryk lande moet saamwerk
Om kweekhuisgasse te verminder en klimaatvriendelike, volhoubare ontwikkeling in die ontwikkelende wêreld te verseker, is dit nodig dat ryk lande hul verpligtinge nakom om finansiering asook die ontwikkeling en oordrag van tegnologie te verskaf.
Sy sê die mikpunt om aardverwarming tot 2 grade Celsius te beperk, kan nie deur een deel van die wêreld alleen bereik word nie.
Byna 97% van alle landbouwerkers woon in ontwikkelende lande en die landbou vorm die helfte van die bruto binnelandse produk van die mees onontwikkelde lande.
Terwyl daar geraam word dat die wêreld se voedselproduksie teen 2050 met 70% sal moet toeneem, bedreig klimaatsverandering reeds bestaande opbrengste van stapelvoedselgewasse, veral in Suid-Asië.
6 Desember 2011