
Suid-Afrika benodig daarom ’n bykomende 17 000 brandbestryders teen die voorspelde toename in veldbrande.
Dié opmerking is Dinsdag deur mnr. Trevor Abrahams, besturende direkteur van Working on Fire (WoF), tydens mondelingse voorleggings aan die portefeuljekomitee van bosbou, visserye en omgewingsake oor die wetsontwerp vir klimaatverandering gemaak.
Abrahams het gesê WoF steun ’n standpunt dat veldbrande en klimaatsverandering wêreldwyd met mekaar verband hou.
“Ons voorlegging is egter gegrond op die siening dat die wetsontwerp oor klimaatsverandering nie voldoende aandag gee aan sommige bedreigings van klimaatsverandering nie, soos die verwagte groei in die voorkoms van uiterste veldbrande en die skade wat dit kan veroorsaak.”
Hy het gesê in ’n verslag van die Verenigde Nasies (VN) se omgewingsprogram in Mei vanjaar is bevind veldbrande word al hoe meer intens en kom ook meer gereeld voor.
Luidens die verslag vererger klimaatsverandering die voorkoms van veldbrande namate droogtes toeneem en temperature begin styg wat lei tot warmer, droër en langer veldbrandseisoene.
“Luidens die verslag, Spreading like wildfire: The rising threat of extraordinary landscape fires, kan die voorkoms van ekstreme veldbrande teen 2030 met 14% toeneem, teen 2050 met 30% en teen die einde van die eeu met 50%.”
Voorkoming beter as bestry
Meer brandbestryders is egter nie die enigste oplossing wat die bedreigings van ’n verwagte toename in veldbrande sal kan stuit nie.
Luidens die VN-verslag moet regerings veral begin konsentreer op die vermindering van risiko’s wat veldbrande laat ontstaan, en meer direk saam met plaaslike gemeenskappe werk om nie net brande nie, maar ook klimaatsverandering te voorkom.
Die verslag maak dit duidelik bewusmaking onder gemeenskappe en voorkoming is daarom ’n kritiese deel om die voorkoms van veldbrande te bestry.
Mnr. Johann Breytenbach, bestuurder van die Vrystaatse brandbeskermingsvereniging, het gesê ’n veldbrand kan redelik goed bestry word as dit teen 3-4 km/h beweeg, maar sodra ’n brand aangeblaas word deur wind van vinniger as 40 km/h, kan die brand teen 6-7 km/h begin beweeg en weghardloop.
“Brandbane op plase is daarom byvoorbeeld noodsaaklik sodat daar ’n ankerpunt en beheerlyn is om teen die brand te baklei. Deeglike brandstofladingsbestuur is ook noodsaaklik. ”
Hoe ernstig is die probleem?
Die WoF wat opdrag het om grondeienaars wat brande bestry by te staan, het meer as 200 basisse reg oor die land en moet jaarliks gemiddeld 2 500 veldbrande in die land bestry, maar dié aantal brande is ’n fraksie van voorvalle wat plaasvind.
“Gedurende die 2021-veldbrandseiseon het ons provinsie (Vrystaat) 17 678 voorvalle van veldbrande gehad wat oor ’n totale oppervlakte 745 288,32 ha gestrek het. Dit sluit landelike dele en wildernisgebiede in waar stedelike uitbreiding reeds plaasgevind het. Die aantal voorvalle in 2021 toon ’n toename van 64,05% in totale oppervlakte en ’n styging van 29,36% in voorvalle vergeleke met die 2020-brandseisoen,” sê Breytenbach.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.