
‘n Balans tussen druk vir polities-bindende ooreenkomste rakende klimaatverandering en die behoud van vertroue in dié proses is ‘n groot uitdaging vir Suid-Afrika wat die COP 17-besprekings in Durban die jaar sal aanbied.
Me. Joanne Yawitch, die adjunk-direkteur-generaal vir klimaatverandering by die Departement van Omgewingsake en Waterwese, sê hulle wil graag voortbou op die COP 16-samesprekings in Mexiko in 2010.
Sy het Donderdag (20 Januarie 2011) sake-ondernemings oor hulle rol by COP 17 in Johannesburg toegespreek.
Die verskil
Ná 2009 se samesprekings by die COP 15 in Kopenhagen in Denemarke wantroue tussen rolspelers veroorsaak het, het die Mexikaanse regering met die COP 16-samesprekings daarin geslaag om dié vertroue te herbou.
“Ons moet hierop voortbou. Ons kan nie te veel druk met ons voorstelle op besluitnemers plaas nie, maar ons kan ook nie meer ernstige politieke vrae vermy nie. As ons nie die regte balans hier kry nie, kan ons uitkomste of nie sinvol wees nie, of die uitkomste kan te ambisieus wees om te bereik,” aldus Yawitch.
Volgens Yawitch is van die verwagtinge vir COP 17 dat ‘n wetlik-bindende ooreenkoms vir die beperking van kweekhuisgasvrystelling vir die voorkoming van gevaarlike klimaatverandering bereik moet word.
‘n Omvattende internasionale aanpassingstrategie om ontwikkelende lande en lande wat tans regstreeks geraak word finansieël en andersins te ondersteun, word ook voor gehoop.
Groot geleenthede
Yawitch het die sakewêreld (wat die landbou insluit) aangemoedig om betrokke te raak by die samesprekings in Durban, aangesien dit groot geleenthede bied om Suid-Afrika en dit wat reeds rakende die beperking van klimaatverandering gedoen word, aan die wêreld bekend te stel.
Die onderskeie sprekers sê die Mexikane het die COP 16-samesprekings gebruik om hulle land trots te vertoon. “Waar ook al jy gekyk het, daar was Mexiko. Hulle het alles onder die son daar gehad om hulle land aan die wêreld bekend te stel,” vertel Yawitch.
Mnr. Rohitesh Dhawan, ‘n KPMG-woordvoerder vir klimaat, meen die sakewêreld moet so vinnig moontlik met die Regering begin skakel rakende onderhandelings oor bepalings vir COP 17 en oor hoe om die geleentheid ten beste vir Suid-Afrika te benut.
20 Januarie 2011