
Met 'n totale omset van R66,5 miljoen voor BTW, het die Klipkamp Buffelboerdery se produksieveiling naby Bela-Bela in Limpopo aan die einde van Augustus gewys dat markneigings nie noodwendig die pryse van goeie genetika aan bande lê nie.
Die veiling is aangebied deur die Wildswinkel, 'n nuwe handelspos vir skaars wild op die Zwartkloof private natuurreservaat.
Die diere kom almal uit wyle mnr. Louis Kotze en sy seun Janus se Klipkamp-Buffelboerdery in Swellendam. Dié boerdery is onlangs deur die Wildswinkel oorgeneem. Die Kotzes se moeite om oor die afgelope nege jaar 'n prima-kudde op te bou, het daartoe gelei dat al 76 lotte verkoop is. Kenners meen egter dit is in 'n onderdrukte buffelmark.
Mnr. Pieter Bellingham, 'n wildboer van Limpopo, het altesaam R11,7 miljoen bestee, onder meer R6,4 miljoen op Mooi Koei, 'n 11 jaar-oue koei wat oorspronklik uit Madikwe kom. Een van haar kalwers, Mooi Seun is teen R1,6 miljoen verkoop – hy is nog net een jaar oud. Bellingham het ook R3,6 miljoen betaal vir Donker Koei, 'n nege-jarige Madikwe koei.
Die hoogste bod is op R8 miljoen toegeslaan vir Richie, 'n Madikwe-bul van vyf jaar en sewe maande met 'n horingspan van byna 46". Mnr. Peter Crouch was die koper.
Die 76 lotte het bestaan uit byna 100 buffels met 19 manlike diere 57 vroulike diere, waarvan 20 groter horingspanne as 30" gehad het. Altesaam 32 van die koeie was dragtig, 23 het kallers gehad wat saam met hulle verkoop is waarvan 13 lotte 3-in-1's was. Die 76 lotte is teen 'n gemiddelde prys van R875 000 per lot verkoop.
* As blyk van waardering vir hulle ondersteuning het die Wildswinkel Grand Prix-pakkette aan kopers geskenk vir elke R5 miljoen wat bestee is. Bellingham, Crouch en mnre. Wicus Diederichs en Reuben Saayman het dié geskenke ontvang. Die pakkette sluit onder meer 'n besigheidsklas-retoerkaartjie in na Abu Dhabi, vyfster-verblyf, asook toegang tot die Grand Prix-konserte in. Bellingham het twee pakkette ontvang.