
BVG se jaarlikse graanverhandelingskompetisie, in samewerking met BKB GrainCo, die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE), Landbou.com en Suidwes Graan word vanjaar vir die derde keer aangebied.
Die doel van die kompetisie is om deelnemers meer vertroud te maak met die gebruik van afgeleide instrumente (termynkontrakte en opsies), asook fiktiewe vooruit-kontrakte om prysrisiko te bestuur.
Vir die kompetisie moet deelnemers die prysbestuur van 4000 ton witmielies van 'n boer uit die Coligny-distrik behartig. Die bemarkingsoefening word so realisties as moontlik gehou, met realistiese insetkoste. Deelnemers ontvang elke dag 'n opsommende staat om hulle op die hoogte te hou van hul finansiële posisie.
Daaglikse en weeklikse verslaeVir die duur van die kompetisie kry deelnemers ook toegang tot BVG se daaglikse en weeklikse verslae om hulle op die hoogte te hou van relevante markinligting.
Deelnemers kry verder die geleentheid om BVG se sagteware vir risiko-analise op die webportaal te benut. Deelnemers kan daar vinnig hul risikoprofiel sien oor 'n prysreeks.
Vanjaar se kompetisie is heelwat meer uitdagend as dié van verlede jaar. Die prys vir wit mielies was laas jaar R5000 per ton, wat winsgewende bemarking redelik maklik gemaak het (die kompetisiereëls aanvaar dat die mielies wel gestroop gaan word). Bemarkingstrategieë neem egter 'n heel nuwe dimensie aan by die huidige prys van net bo R2000.
Oordeelkunidge koop en verkoop van opsiesAs die mielieprys R5000 is, is geen bemarkingstrategie eintlik nodig nie, behalwe om die prys vas te maak. Vanjaar kan die oordeelkundige koop en verkoop van opsies, saam met vooruit-kontrakte, 'n wesentlike bydrae lewer om 'n beter prys te realiseer. Die effek van transaksies wat gedoen word, kan dadelik gesien en herevalueer word.
Die kompetisie-ure is – soos wat werklik in die praktyk die geval is – gedurende weeksdae van 09:00 tot 12:00, dit wil sê dieselfde tyd as wat verhandeling normaalweg op die JSE gedoen word.
Die kompetisie het reeds op 17 Januarie begin, en deelnemers het nog tyd tot 17 Februarie 2017 om te registreer. Die kompetisie duur tot 29 April, met 'n totale prysgeld van R45 000.
* Volg hierdie skakel nou om in te skryf: http://portal.bvg.net/