
Die vernietigende brande wat Knysna in puin gelê het en verskeie boere se plase en weiding verwoes het, was nie die resultaat van brandstigting nie.
Dít is die bevinding van 'n ondersoek deur die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow. Klatzow het 'n ondersoek oor die brande in Knysna, Plettenbergbaai en Mosselbaai in opdrag van die burgerregte-organisasie Afriforum gedoen.
Die bevindinge van die ondersoek is vandag gedurende 'n perskonferensie bekend gemaak. Die bevindinge is ook beskikbaar gestel aan die Wes-Kaapse regering vir verdere ondersoek.
LEES OOK: Desperate boer rig pleidooi na brande
Oorsake
Een van die hoofbevindings van die verslag is dat nie een van die brande by Knysna deur brandstigting veroorsaak is nie. Die brand wat in die oostelike deel van Knysna gewoed het, het in 'n beboste gebied met die naam van Dam-se-Bos ontstaan, terwyl die westelike brand in die Elandskraal-omgewing ontstaan het.
Die bron van eersgenoemde brand is nie gevind nie. Brandstigting word egter nie vermoed nie. Die Elandskraal-brand is deur 'n weerligstraal veroorsaak. Die brand het vir weke gesmeul voor sterk winde die brand op 7 Junie aangevuur het.
Dié brand het ook na Brenton-on-Sea en Buffelsbaai versprei. Brande by Pezula het ook uit die Elandskraal-brand ontstaan.
Die brande by Plettenbergbaai het deels vanaf Dam-se-Bos en Pezula versprei maar is ook veroorsaak deur 'n boom wat in 'n plantasie op 'n kragdraad geval het.
Slegs twee brande is aangevuur deur mense se aksies. 'n Deel van die Plettenbergbaai-brand is per ongeluk deur 'n inwoner van 'n informele nedersetting veroorsaak, terwyl die Mosselbaai-brand gestig is. Klatzow het die polisie gekritiseer vir die gebrek aan 'n ondersoek oor die Mosselbaai-brand se stigting.
Die bevindings en opsomming van Klatzow se ondersoek is hier beskikbaar: Bevindings en opsomming van ondersoekbevindings