
Melk wat nie die proteïen betalaktoglobulien bevat nie, kan binne die volgende tien jaar op winkelrakke wees nadat Nieu-Seelandse wetenskaplikes ’n koei gekloon het. Betalaktoglobulien kan suiwelallergieë by mense veroorsaak.
Navorsers van AgResearch het luidens ’n berig op die webwerf ABC Rural die koei Daisy gekloon om melk sonder dié proteïen te lewer. Sowat 3% van die menslike bevolking is allergies daarvoor.
Teenstanders van die projek
’n Groep wat teen enige genetiese modifisering in dié land is, het egter Nieu-Seeland se regering gevra om dié navorsingsprojek stop te sit. GE Free New Zealand sê die verwydering van die proteïen uit melk is verkeerd en kan lei tot verdere probleme vir mense wat dit gebruik.
Me. Claire Bleakely, voorsitter, sê die proteïen maak ’n baie klein deel van melk uit. Dit stel die menslike spysverteringstelsel in staat om melk te verteer en versterk die mens se immuunstelsel. Sy sê hoewel wetenskaplikes beweer 3% van menslike bevolking is allergies vir betalaktoglobulien is dalk net 1% werklik daarvoor allergies. “Kaseïen, ’n ander melkproteïen, is een van die stowwe in melk wat die meeste allergiese reaksies veroorsaak en die wetenskaplikes het die hoeveelheid kaseïen in die melk verdubbel.”
Bron: ABC Rural
Kyk die video hier