
Die Regering besef dalk as hy te veel afbrekend inmeng met Suid-Afrika se oorwegend wit kommersiële landbousektor, dit vernietigende gevolge vir voedselsekerheid inhou, sê die politieke ontleder dr. John Kane-Berman.
Hy het in ’n praatjie in Sandton oor die huidige stand van Suid-Afrika gesê die belangrikheid van voedselsekerheid hou die Regering aan bande. Dit sal waarskynlik verhoed dat hy die ergste van sy dreigemente oor grondhervorming uitvoer.
“Ek mag naïef wees, maar die voortdurende verskuiwing van doelpale en spertye vir grondeise kan gedeeltelik daarop gemik wees om dit onbepaald uit te stel – wat nie noodwendig goed is nie. Mense word mislei deur die verwagtinge wat geskep word. Hulle word ook mislei omdat grond nie van wit na swart mense oorgedra word nie. Die grond gaan na die staat en dit is net bedekte nasionalisering.”
'Praat oor bedreiging van eiendomsreg"
Hy sê mense durf egter nie ophou om te veg, te organiseer en hulle uit te spreek teen die bedreiging van eiendomsregte nie.
Volgens Kane-Berman bewys 15 jaar se meningsopnames van die Instituut vir Rasseverhoudinge, waarvan hy voorheen hoof was, dat die meerderheid Suid-Afrikaners van alle rasse meer bekommerd is oor werkloosheid en misdaad as ras en grondhervorming.
Hy glo pres. Jacob Zuma hou ’n groot bedreiging in omdat ’n mens kan aanvaar dat hy, ná hy reeds beheer van die staat se veiligheidsagentskappe en die vervolgingsgesag oorgeneem het, ook beheer sal wil neem van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Regterlike Dienskommissie en die Grondwethof.
Moet agteruitgang stuit
“ ’n Mens kan ook aanneem dat hy dalk nie stil-stil sal gaan nie, al word hy uitgestem. Om van hom ontslae te raak is noodsaaklik, maar dis nie voldoende om die agteruitgang te stuit en om te keer nie.”
Hy sê ná Zuma wag daar vier struikelblokke: Om die vrye markstelsel te behou en te bewaar, om toenemende rassepolarisering te stuit, om weg te doen met “bemagtiging” wat net die staat verryk en om demokratiese regte te beskerm.
? Kane-Berman se memoirs, Between Two Fires: Holding the Liberal Centre in South African Politics, oor sy lewe as politieke ontleder en kommentator, is op die geleentheid bekend gestel.