
Minstens vyf nuwe boere het die afgelope maande koffiebome aangeplant met die doel om koffie kommersieel te produseer, sê mnr. Rob Cummings van Beaver Creek Coffee, die grootste koffieboer in Suid-Afrika.
“Ek skat dat tussen 50ha en 75ha koffie reeds in Suid-Afrika aangeplant is. Ons hoop om binne die volgende 12 maande ’n Suid-Afrikaanse koffieprodusente-organisasie op die been te hê. Dit sal baie vir die bedryf beteken, aangesien ons dan kennis kan uitruil en die bedryf gesamentlik vorentoe kan vat,” sê Cummings.
Volgens Cummings is meeste van die nuwe uitbreidings in noordooste van die land. “In Suid-Afrika is ’n gemiddelde oes van tussen 1,5 ton en 2 ton per hektaar haalbaar en koffie is ’n hoëwaarde-produk indien jy dit self op die plaas rooster. Die geleenthede in die bedryf is dus goed. Tans verkoop ’n goeie gehalte, enkel-oorsprong groen koffieboon, in Suid-Afrika teen R100/kg,” sê Cummings.
Cummings voorspel nie dat die internasionale prys baie sal toeneem oor die volgende 12 maande nie, tensy ongunstige weer in Suid-Amerika, waar meeste van die wêreld se koffie verbou word, ’n misoes veroorsaak.