Inwoners van Koingnaas in die Kamiesberg-munisipaliteit in die Noord-Kaap sê hulle gaan nie lê en toelaat dat hulle met ’n hofbevel gekeer word om hul vervalle dorp met hul eie geld op te knap nie.
Só sê mnr. Jaap Kelder, voorsitter van die nasionale belastingbetalersunie (NBU), wat die Koingnaas-belastingbetalersvereniging (KBBV) bystaan om die tussentydse interdik teen die KBBV teen te staan.
Die interdikaansoek is deur die munisipaliteit gebring om die werk stop te sit nadat die KBBV in Desember 2021 vir drie weke onder meer slaggate in die hoofstraat herstel het.