Hy gaan versoek dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die situasie by die Landboukollege Potchefstroom, asook om die Noordwes-LUR se optrede in dié verband, ondersoek.
Mnr. Ernst Roets, voorsitter van AfriForum Jeug, sê na aanleiding van ‘n gesondheids- en veiligheidsverslag wat oor die kollege saamgestel is, gaan die organisasie hom na die departement wend.
‘n Onafhanklike gesondheidsbeampte het in Desember verlede jaar die kollege besoek en bevind dat die toestande by die kollege onhigiënies en onveilig vir studente is. Dit volg na verskeie klagtes by die hoof van die kollege en mnr. Boitumelo Tshwene, LUR vir Landbou in Noordwes, aangegee is.
Dank hoof af
“Ons wil hê die oorsaak van die probleem moet ondersoek word. Die LUR was in April 2010 reeds by die kollege en niks het daarna gebeur nie – so sy optrede, asook dié van mnr. Dipepeneneng Serage, die kollegehoof, moet ondersoek word,” aldus Roets.
Roets sê hulle gaan weer eens vra dat Serage afgedank word, soos wat hulle in 2010 al op verskeie vlakke versoek het. Die organisasie is van plan om volgende week die departement te besoek.
14 Januarie 2011