‘n Formele klag teen mnr. Dipepeneneng Serage, die hoof van die Landboukollege Potchefstroom is by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye deur AfriForum Jeug ingedien ná verskeie bewerings van ongerymdhede op dié kampus.
Luidens ‘n verklaring van dié organisasie versoek hy die Departement om Serage af te dank.
Dié stap volg na studente gisteraand oproerig geraak het omdat hulle Sondagaand om 20:00 in kennis gestel is dat hulle ‘n eksamen, wat verlede week uitgestel is, Maandagoggend 08:00 moes aflê. Volgens die kennisgewing sou stappe teen enige student wat nie die eksamen skryf nie, geneem geword het.
Polisie se hulp ingeroep
Mnr. Ernst Roets, die voorsitter van AfriForum Jeug, sê die Polisie se hulp is Sondagaand ingeroep om ‘n groep South African Students' Congress (Sasco)-studente, wat weens die eksamen oproerig geraak het, tot bedaring te bring.
Volgens mnr. Marlo van Niekerk, die voorsitter van die AfriForum Jeug op die kampus, sê mnr. Boitumelo Tshwene, die LUR vir landbou, omgewingsake, landelike en omgewingsontwikkeling in Noordwes, het vandag aan ‘n vergadering by die kampus deelgeneem. Hy sê die vergadering het op ‘n hewige woordewisseling uitgeloop en dit was onsuksesvol.
Intussen het Landbou.com die kampus onlangs besoek en self gesien in watter haglike toestand die kampus en die koshuise is. Foto’s van die kampus is ook te sien.
AfriForum Jeug voer al sedert die begin van die jaar ‘n stryd met Serage, toe studiemateriaal glo nie aan Afrikaanse studente verskaf is nie, maar slegs aan Engelse studente. Verskeie ander klagtes is ook al aan die media deurgestuur.
19 April 2010