
Die internasionale maatskappy Golden Peanut and Tree Nuts, waarvan die Noord-Kaaplandse boer mnr. Alfonso Visser ‘n aandeelhouer en die Suid-Afrikaanse hoof uitvoerende beampte is, bied op 14 en 15 Maart die derde internasionale konferensie van pekanneute by SA Pecans op Hartswater aan.
Die vorige twee konferensies in 2013 en 2015 het elke keer meer as 500 mense gelok. Hierdie keer gaan selfs méér mense dit na verwagting bywoon.
Amerikaanse kenners
Drie Amerikaanse kenners gaan boere en ander belangstellendes oor die nuutste neigings in die verbouing van dié gewas inlig. Hulle is dr. James Walworth, hoogleraar en medehoof van die departement grond-, water- en omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Arizona, dr. Richard Heerema, spesialis in pekan- en pistasioneute aan die Universiteit van New Mexiko, en mnr. Daniel J. Zedan, voorsitter van Nature’s Finest Foods, voorsitter van Navarro Pecan Co en raadslid van die Amerikaanse pekanraad.
Visser sê dit sal aan bestaande en voornemende produsente die geleentheid bied om op die hoogte van die nuutste verwikkelings in die ekonomiese verbouing van pekanneute te kom. Die konferensie fokus nie net op bestaande produsente nie, maar ook op boere wat die bedryf wil betree.
Vir meer besonderhede kontak mnr. Luther Olivier, sel 076 060 8176, e-pos: Luther.Oliver@Goldenpeanut.com
Die registrasievorm is beskikbaar op die webtuiste www.sapecans.co.za