
In ’n versoenende boodskap op die jaarkongres van Agri Oos-Kaap in Port Elizabeth het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, ’n beroep op die kommersiële landbou gedoen om met oplossings na vore te kom om die kwessie van die herverdeling van grond vreedsaam op te los.
“Wit boere moet besin hoe hulle deel van die proses gaan wees eerder as om niks te doen nie en dan die slagoffers van die veranderinge te word.” Hy het benadruk dat die ANC se stryd nooit teen wittes as sodanig was nie, maar teen wit oorheersing.
“Omdat swart Suid-Afrikaners egter vir jare van geleenthede, insluitende die besit van grond as ’n hulpbron, ontneem was, kan sake nie net so voortgaan nie. Die Minister van Grondsake en Landelike Ontwikkeling se voorstel dat boere die helfte van hulle plase aan hulle werkers gee, is sy interpretasie van die ANC se vryheidsmanifes dat grond aan almal wat dit bewerk, behoort.
“Ons (die Regering) vra dus vir werkbare voorstelle en nie net voortdurende kritiek nie. Dit is ’n komplekse probleem, maar in plaas van oplossings, bevind die ANC hom nou in die rol van die opposisie.
“Die grootste uitdaging is hoe die land verander kan word waar die meerderheid min hoop koester, na een waar hulle met waardigheid kan woon en werk. Die belange van die sowat 35 000 kommersiële boere wat 82 miljoen hektaar grond besit onder die vaandel van voedselsekerheid, kan nóóit swaarder weeg as dié wat net oor 8 miljoen hektaar bewerkbare grond beskik nie. Die toegang tot grond vir almal kan nie met iets anders vervang word nie.”
Mantashe het gesê hy voorsien dat landbou dié ekonomiese sektor van die toekoms gaan word. “Mense sal altyd moet eet en voedselproduksie en -sekerheid is van groot belang en sal altyd so wees. Dit is nie net ’n sosiale transformasie-sektor nie. Eng gesproke gaan grondhervorming dus oor meer as die blote herverdeling daarvan. Dit bied ook uitstekende sakegeleenthede.”
Mnr. Johan Wege van Molteno sê dit was uit Mantashe se toespraak duidelik dat daar ’n toekoms vir wit boere in die land is. “Dit is duidelik dat die Regering dringend oplossings soek – dat hulle dit gesamentlik soek, en dat ons die toekoms saam met hulle kan bou.”
Mnr. Johannes Möoller, voorsitter van Agri SA, het gesê as ’n mens goed na Mantashe geluister het, is twee dinge duidelik: Dat Nkwinti se voorstelle oor 50% van plase aan werkers nie ANC-beleid is nie en ook nie Regeringsbeleid nie.