
’n Groep jongmense van die Schoombie-boeregemeenskap nooi die hele land vir ’n sokkie in die Karoo.
Mnr. James Southey, lid van die Karoo Skoffel-reëlingskomitee, sê hulle het aanvanklik besluit om ’n sokkie te hou waar die boeregemeenskap van Schoombie, Middelburg en Steynsburg saam kon kuier en nuwe vriende kon maak.
Sokkietyd
“ ’n Groep van ons vriende het een Sondagmiddag ná ’n braai rustig gesit en gesels, en een van die dames het gesê sy het ’n vriend wat sy aan van die dames in die kontrei wil voorstel. Ons moes toe met idees vorendag kom en het besluit om ’n sokkie by die Schoombie-buiteklub te reël,” vertel Southey.
Southey sê die idee het intussen uitgebrei en ’n groep is vir alle belangstellendes op Facebook gestig.
“Hoewel die geleentheid op Karoo-boere gemik is, is álle boere uitgenooi, maar nie net boere nie, ons nooi die hele Suid-Afrika uit. Ons moedig mense aan om van die stede af te kom en ’n aand in die pragtige Karoo deur te bring.”
Moeilike tye
Volgens Southey wil hulle boere ook ’n kans bied om die lewe ten volle te geniet, ten spyte van al die probleme en druk ekonomiese tye wat hulle beleef.
“Ons glo dit is goed om die lewe ten volle te geniet, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Martin Luther King jr. het gesê: ‘Selfs al sou ek weet die wêreld kan môre tot niet gaan, sal ek steeds vandag my boom plant’,” vertel Southey.
Besonderhede
Die geleentheid sal op 21 Desember 2011 plaasvind. Dit sal begin met rolbal teen 14:30, waarna tennis teen 16:00 sal volg. Die aand se verrigtinge in die vorm van ’n ete en dans sal om 19:00 begin.
Southey sê enige iemand wat verblyf benodig, kan gerus op hul Facebook-blad met hulle in verbinding tree.
30 September 2011